Sport

Internasionale atleet, Loutjie uit Lephalale se stal

L outjie Steenekamp se hope medaljes spreek boekdele oor sy passie en liefde vir atletiek, maar sy onlangse prestasie om deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) tot die nasionale span verkies te word, het hom steeds effe onkant gevang. “‘n Baie groot droom van my is besig om waar te word. Dit was ‘n groot verrassing, eer …

L outjie Steenekamp se hope medaljes spreek boekdele oor sy passie en liefde vir atletiek, maar sy onlangse prestasie om deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) tot die nasionale span verkies te word, het hom steeds effe onkant gevang.
“‘n Baie groot droom van my is besig om waar te word. Dit was ‘n groot verrassing, eer en voorreg om te weet dat my harde werk raakgesien word. Ek sien daarna uit om volgende maand aan die Confederation Africa Athletics (CAA) Juniorkampioenskappe in Algerië deel te neem en sal myself graag in die toekoms as lid van die Suid-Afrikaanse Olimpiese span wil sien,” sê graad 12-leerder van Hoërskool Ellisras en uitblinker van Mogol Atletiekklub in ‘n telefoniese onderhoud.
Loutjie het die atletiekseisoen op ‘n hoë noot begin toe hy as o.19-atleet tydens die skool se interhuisbyeenkoms as senior Victor Ludorum-atleet sowel as beste hekkies-, seuns- en beste baanatleet aangewys is. Hy is ook plaaslik tydens Hoërskool Pietersburg (PHS) se Janus Roberts Atletiekbyeenkoms as senior Victor Ludorum-atleet aangewys.
“Ek het die 400 m-hekkies tydens die ASA Jeug- en Juniorkampioenskappe in Kaapstad gewen wat my nie net die land se junior
400 m-hekkiekampioen maak nie, maar ook plek in die span wat na Algerië toer, verseker het,” sê hy trots.
Loutjie was ook verlede jaar deel van die World Wide Scholarships (WWS)-span wat in Amerika deelgeneem het. WWS is ‘n internasionale organisasie wat geleenthede aan atlete, akademiese en artistiese presteerders bied om hulle talente te bevorder en hul drome te bewaarheid.
Die skakelbeampte van Mogol Atletiekklub, Wikus Geyser, sê die klub het verskeie internasionale atlete in die verlede opgelewer en dat Loutjie se prestasie skitterend is.“Hy is ‘n uitstekende atleet wat hard werk om sy doelwitte te bereik en gaan beslis die klub, provinsie en land se name hoog hou. Ons is baie trots op hom.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button