Sport

Net goud is goed genoeg vir Winnie Roux

Wanneer Winnie Roux smiddae die ontvangstoonbank van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé ontruim, word daar nie gerus nie, maar begin sy haar passie vir atletiek en netbal uitleef. Haar liefde vir veral atletiek, toewyding en harde oefensessies saam met hoërskoolatlete onder leiding van haar man, Danie het gesorg dat sy in topvorm was vir die …

Wanneer Winnie Roux smiddae die ontvangstoonbank van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé ontruim, word daar nie gerus nie, maar begin sy haar passie vir atletiek en netbal uitleef.
Haar liefde vir veral atletiek, toewyding en harde oefensessies saam met hoërskoolatlete onder leiding van haar man, Danie het gesorg dat sy in topvorm was vir die Gauteng-Noord Meesters Atletiekkampioenskappe wat onlangs op die Pilditch Stadion in Pretoria gehou is.
Die topfiks Roux (54) het in die 100- en 200 m seges behaal en uitstekende tye van onderskeidelik 14,91 sekondes en 31,00 sekondes aangeteken.
“Ek is baie trots, maar bly nederig en dankbaar. Ek kon my tyd in die 100 m met ,38 sekondes verbeter sedert dieselfde byeenkoms verlede jaar. Vandat ek verlede jaar aan die meesterkampioenskappe begin deelneem het, is dit my die eerste goue medaljes. Tydens dieselfde kampioenskappe verlede jaar sowel as met die Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskappe het ek silwermedaljes in beide items behaal,” sê Roux.
Sy sal vanjaar die nasionale kampioenskap­pe misloop omdat sy van ‘n ligte bese­ring wil herstel voordat sy volgende jaar weer volstoom begin oefen. “My mikpunt is om volgende jaar vir nasionale kleure te kwalifiseer wat langer ure se harder oefening gaan kos.”
Roux oefen van Julie tot Mei saam met Curro Heuwelkruin-atlete wat Danie afrig en neem net in Junie ‘n ruskans. “Ek doen alles saam met hulle, maar bulte uithardloop bly die ergste. Ons oefen Maandae tot Donderdae vir anderhalf uur en sit alles in. Ek rig ook die skool se eerste netbalspan af.”
Danie het definitief Winnie se potensiaal al op skool raakgesien toe hy haar as beginneronderwyser begin afrig het toe sy in graad 11 was. Sy het net tot op 23-jarige ouderdom kompeterend deelgeneem waarna sy net ‘n daaglikse drafsessie tussen kindersgrootmaak ingewerk het.
Wanneer Roux nie atletiek oefen nie rig sy Curro Heuwelkruin se eerste netbalspan af.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button