Sport

Plaaslike atlete maak geskiedenis tydens Cape Peninsula Marathon

Vier atlete van Pietersburg Road Runners (PRR) het Sondag tydens die jaarlikse Cape Peninsula Marathon naam gemaak deur nie net die algehele eerste, sesde, sewende en 26ste individuele posisies in te palm nie, maar ook as beste span aangewys te word. Langasem Lutendo Mapoto het met ‘n wentyd van 2:27.36 die goue medalje om sy …

Vier atlete van Pietersburg Road Runners (PRR) het Sondag tydens die jaarlikse Cape Peninsula Marathon naam gemaak deur nie net die algehele eerste, sesde, sewende en 26ste individuele posisies in te palm nie, maar ook as beste span aangewys te word.
Langasem Lutendo Mapoto het met ‘n wentyd van 2:27.36 die goue medalje om sy nek gehang en Timothy Munzhelele en Calvin Malatji het onderskeidelik sesde en sewende geëindig terwyl Johan van der Merwe algeheel 26ste was.
Van der Merwe sê die tye van elke klub se eerste vier atlete word as gemiddeld bereken om die wenspan te bepaal. “Ons is trots op ons prestasies en veral op Mapoto se individuele goue medalje. Die groot klubs wat deelgeneem het, het ons onderskat,” sê Van der Merwe wat ook ‘n komiteelid van PRR is.
Volgens hom was die wedloop ‘n goeie oefensessie vir die Two Oceans Marathon wat in April aangebied word. “’n Deel van Sondag se roete was dieselfde as die Two Oceans en ons kon ‘n goeie idee kry van wat op ons atlete wag. Mapoto, Munchelele en Malatji vertrek eersdaags na ‘n ses weke lange oefenkamp wat in Dullstroom, Mpumalanga gehou word,” sê Van der Merwe.
PRR word as amateurklub beskou, maar kompe­teer met groot sukses teen elite klubs regoor die land. “Ons wil graag ‘n elitehuis vir ons topatlete bekom. Dit is moeilik vir hulle om saam te oefen omdat hulle oor ver afstande op openbare vervoer moet staatmaak. Wanneer ons ons topatlete onder een dak kan kry, gaan hulle net nog sterker word en beter presteer,” sê Johan.
Dit is ook moeilik om borge vir die stad se spogatlete te kry en uitgawes word hoofsaaklik deur Van der Merwe en PRR-voorsitter, Colinda Potgieter gedek. Enigiemand wat bereid is om by te dra kan Van der Merwe by 082 877 3640 skakel.

Storie en foto:RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button