Plaaslike ruiter tops in Bahrein

Hy het eers gedink dit is neusie verby en hy moet van die internasionale kompetisie onttrek toe sy geliefde perd seerkry, maar het tog besluit om met ‘n onbekende perd aan ‘n ander afstand van die uithourit deel te neem en bo alle verwagting almal in die proses uitgestof. AJ Blom, lid van die Capricorn …

Hy het eers gedink dit is neusie verby en hy moet van die internasionale kompetisie onttrek toe sy geliefde perd seerkry, maar het tog besluit om met ‘n onbekende perd aan ‘n ander afstand van die uithourit deel te neem en bo alle verwagting almal in die proses uitgestof.
AJ Blom, lid van die Capricorn Endurance Club was voorbereid om op 14 Januarie in Bahrein, ‘n klein Arabiese monargie in die Middelandse See 23 km oos van Saoedi-Arabië, aan die H.H.SH.Khalid Bin Al Khalifa Endurance Cup in die 120 km-afdeling deel te neem toe sy perd, Magie DE L’ile ‘n besering opdoen en hulle moes onttrek.
“Die enigste uitweg was dat AJ die groot uitdaging manmoedig aanpak en met ‘n geleende vreemde perd van Franse afkoms, Kasoara, in moeilike weersomstandighede met ‘n sterk wind en hoë humiditeit aan die 80 km-kategorie, deelneem. Die terrein, wat meestal uit woestyn omring deur die see bestaan, was die grootste struikelblok om te oorkom,” sê Albie, AJ se pa.
AJ, wat al sedert tienjarige ouderdom kompeterend ry het hom nie van stryk laat bring nie en nie net beredeneerd die mederuiters van Bahrein, Poland en Koeweit uitgestof nie, maar ook saam met sy Bahreinse spanmaats tweede gekom in die spankompetisie met ‘n Toyota FJ Cruiser as prys.
Dit is die tweede keer wat die talentvolle graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg vir dié internasionale kompetisie kwalifiseer.
“AJ beskik oor al die eienskappe om van hom ‘n uitstekende uithouritruiter te maak omdat hy selfs ‘n onbekende perd binne die eerste paar kilometer kan evalueer en presies weet waar die perd se energievlakke lê omdat hy dit moet gebruik om in die vinnigste tyd met die minste inspanning die rit te voltooi. Omdat hy in ‘n uithouritkultuur saam met sy pa grootgeword het, weet hy hoe om alles van homself en sy perd tot albei se voordeel te gebruik,” sê Jan Bouwman eienaar van ‘n uithouritryskool in die stad.
Albie het dieselfde manmoedigheid as sy seun openbaar toe hy met ‘n vorige besoek aan Bahrein waar van hul familie woon die sjeik, Salman Bin Saqer Al Khalifa, se telefoonnommer bekom het en dapper gevra het of hy hom moontlik kan besoek. Die sjeik het die versoek aanvaar waarna die gesprek mettertyd na uithouritte gelei het. Die res is geskiedenis.

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Hooffoto: AJ Blom het verlede week koning gekraai in die 80 km-afdeling van die H.H.SH.Khalid Bin Al Khalifa Endurance Cup in Bahrein. (foto verskaf)

 

Exit mobile version