Pietersburg Dorp Rugbyklub beplan om eertydse glorie te herstel

Die bestuur van Pietersburg Dorp Rugbyklub het vanjaar groot kanonne ingebring om die klub weer so mededingend as in die verlede te maak. Nuwe borge en afrigters is aan boord en kompeterende spanne kan hul gereed maak vir harde wedstryde wanneer hulle met Dorp gaan koppe stamp. ‘n Nuwe komitee is ook onlangs gekies met …

Die bestuur van Pietersburg Dorp Rugbyklub het vanjaar groot kanonne ingebring om die klub weer so mededingend as in die verlede te maak.
Nuwe borge en afrigters is aan boord en kompeterende spanne kan hul gereed maak vir harde wedstryde wanneer hulle met Dorp gaan koppe stamp.
‘n Nuwe komitee is ook onlangs gekies met Gordon Ferns as president, Helgaard Muller as voorsitter, Floris Venter as adjunkvoorsitter en Jacques Swanepoel as hoofafrigter. Ferns sal ook met afrigting help.
“Ons wil vanjaar minstens weer tot die uitspeelrondes van die plaaslike ligas vorder en beoog om drie vol spanne in die volgende drie maande op die veld te stuur. Dorp gaan veral op die o.20-span fokus om hulle sukses in
die Curriebekerliga te verseker,” sê Swanepoel.
Hy is ‘n gesoute afrigter op nasionale en internasionale vlak waar hy al by die Luiperds se Curriebekerspan, die Suid-Afrikaanse studentespan, en selfs in Nieu-Seeland betrokke was. Sterk borgskappe soos Limpopo Toyota, MAN en Volkswagen Trucks is aan boord en die klub het ‘n besigheidsforum gestig om behoeftige spelers te akkommodeer.
“Ons het ‘n hele klomp spelers wat nie al die onkoste wat die spel vereis kan betaal nie. Sommige spelers kan selfs deur die forum werk aangebied word,” sê Swanepoel.
Op 25 Februarie begin die vriendskaplike wedstryde gevolg deur die jaarlikse Boet Fickliga wat op 1 April afskop.
Dorp het reeds Dinsdag begin oefen en sal in Februarie elke Dinsdag en Donderdag van 18:00 tot 19:30 slyp. Van Maart af sal daar Maandae ook geoefen word.
Swanepoel het belangstellendes genooi om by die klub aan te sluit. “Ons kort nie net spelers nie, maar ook afrigters en spanbestuur­ders.”
Vir meer inligting kan Swanepoel by 082 353 9257 of Muller by 082 494 3892 geskakel word.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Bestuurslede van Pietersburg Dorp Rugbyklub is hoopvol op ‘n blik toekoms vir die klub. Links is Gordon Ferns, president, Helgaard Muller, voorsitter en Jacques Swanepoel, hoofafrigter. 

 

Exit mobile version