Atleet tem hoogste bergpiek in Limpopo op 70

‘n Uitdagende wedloop waar atlete soms hande-viervoet kruip, honderde meter in totaal oor los klippe, uitstaande rotspunte, slaggate en graspolle klim, maar uiteindelik, as hul genoeg vasberadenheid en wilskrag het, kan hul sê dat hul die hoogste bergpiek in Limpopo getem het. Dit is die uitdagende Haenertsburg Iron Crown Trail Run wat die Rotariërs Haenerts­burg …

‘n Uitdagende wedloop waar atlete soms hande-viervoet kruip, honderde meter in totaal oor los klippe, uitstaande rotspunte, slaggate en graspolle klim, maar uiteindelik, as hul genoeg vasberadenheid en wilskrag het, kan hul sê dat hul die hoogste bergpiek in Limpopo getem het.
Dit is die uitdagende Haenertsburg Iron Crown Trail Run wat die Rotariërs Haenerts­burg jaarliks in Julie reël om geld vir omgewingsbewaringsprojekte in te samel. Die halfmarathon begin in die dorp draai bo-op Iron Crown en strek weer terug en word deur organiseerders as “‘n veeleisende en gevaarlike enkelbaan-bergvoetpadroete beskryf wat op eie risiko aangepak word.”
Johan van Graan (70) van die Polokwane Atletiekklub (PAC) het besluit om dit op sy emmerskoplysie af te tik al is dit volgens hom eintlik ‘n wedloop vir jonger en ratser atlete. “‘n Mens se beenspiere word tot die uiterste beproef. Jy begin uit die staanspoor geleidelik op die grondpaadjie klim, maar die eintlike skuinste begin so by ses kilometer as jy skielik op ‘n enkel voetpaadjie steil reguit berg op moet hardloop.”
Van Graan sê hy moes soms aan die volgende rots vasklou om te verhoed dat hy val en ‘n tak of grashalm gryp om hom vorentoe te trek en met vasberadenheid en wilskrag deurdruk. Om dinge verder te bemoeilik, moet opgaande atlete op die smal voetpaadjie vir die atlete wat met spoed van bo afkom plek maak.
Net na twee uur se geswoeg, het hy die piek bereik en Limpopo se hoogste bergspits van 2 126 m oorwin waar atlete met ‘n glasie sjerrie verwelkom of getroos word. Die totale klim is 687 meter – ongeveer 15 Nedbank-geboue (die hoogste gebou in Polokwane) in perspektief geplaas bo-op mekaar.
Die einde het ‘n elektriese atmosfeer met die Rotariërs wat uit hulle pad gaan om die grootse oomblik te verewig.
Van Graan het die wedloop as eerste grootgrootmeester in 4:17.00 minute voltooi, maar word saam met die grootmeesters ingedeel en eindig derde omdat daar nie ‘n kategorie vir 70-jariges en ouer is nie,
“As ek weer by Haenertsburg verby ry en die berg met sy torings in die verte sien, sal dit vir my ‘n heel ander betekenis hê.”

 

Storie: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Hooffoto: Johan van Graan, PAC-atleet, op die kruin van Iron Crown.

Exit mobile version