Oud-Pietie skitter tydens Afrika Spele

Voormalige Hoërskool Pietersburg (PHS)-leerder, Terry van Rensburg het onlangs ‘n derdeplek by die Afrika Spele vir stoei, wat in Alexandrië in Egipte gehou is, behaal. Die talentvolle stoeier sê die ervaring in Egipte was heerlik, maar dat dit ‘n uitdaging was om sy teikengewig te bereik. “Die plek was kouer as ek verwag het en …

Voormalige Hoërskool Pietersburg (PHS)-leerder, Terry van Rensburg het onlangs ‘n derdeplek by die Afrika Spele vir stoei, wat in Alexandrië in Egipte gehou is, behaal.
Die talentvolle stoeier sê die ervaring in Egipte was heerlik, maar dat dit ‘n uitdaging was om sy teikengewig te bereik. “Die plek was kouer as ek verwag het en dit was moeilik om die laaste paar gram af te skud.”
Tydens die spele wat onlangs plaasgevind het, het Van Rensburg teen twaalf van die beste stoeiers in Afrika in die
65 kg-gewigsklas kragte gemeet.
Van Rensburg sê hy is trots op sy bronsmedalje, maar dat hy graag ‘n goud- of silwermedalje wou behaal sodat hy aan die wêreldkampioenskappe in Turkye kan deelneem.
“Stoeiers wat die eerste drie plekke in die wêreldkampioenskappe behaal, kwalifiseer vir die Olimpiese Spele wat vanjaar in Brasilië plaasvind.”
Skakelbeampte van PHS, Anna-Marié Schoeman sê dat die skool baie trots op dié oudleerder is en dat hy ‘n uitstekende voorbeeld van deursettingsvermoë is.
Sy beskryf hom as ‘n leerder wat altyd hard gewerk het en toegewyd is.
“Ons gun hom die sukses en swel van trots omdat hy ‘n oud-Pietie is,” sê Schoeman.

Foto: Verskaf – Oud-Pietie, Terry van Rensburg gereed om sy teenstander die stryd in ‘n plaaslike kompetisie aan te sê.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com

Exit mobile version