Sport

Bokkoors hoog onder plaaslike rugbyliefhebbers

Die 2015 Rugbywêreldbekerreeks wat oor ‘n paar dae in Engeland begin, is op byna almal se lippe en groot rolspe-lers in die stad is slaggereed om veral nie een van die wedstryde waar Suid-Afrika speel, mis te loop nie. Premier Stan Mathabatha se woordvoer-der, Kenny Mathivha sê die premier is ‘n groot ondersteuner van verskeie …

Die 2015 Rugbywêreldbekerreeks wat oor ‘n paar dae in Engeland begin, is op byna almal se lippe en groot rolspe-lers in die stad is slaggereed om veral nie een van die wedstryde waar Suid-Afrika speel, mis te loop nie.
Premier Stan Mathabatha se woordvoer-der, Kenny Mathivha sê die premier is ‘n groot ondersteuner van verskeie sportsoorte, nie net rugby nie.
“Alhoewel hy ‘n besige skedule het en vir die tydperk van die Wêreldbeker baie tyd op die gholfbaan sal spandeer, sal hy beslis tyd maak om die Springbokke te ondersteun,” sê Mathivha.
Limpopo Blou Bulle-kantoorbestuurder, Charles van Wyk is bekend vir sy rol in provinsiale rugby, maar wanneer dit by die Springbokrugby kom, is hy nie bang om die span op tradisionele maniere te ondersteun nie. “Biltong, droëwors en braaivleis is deel van die rugby. Ek gaan probeer om soveel moontlik wedstryde te kyk, maar sal beslis nie Suid-Afrika se kragmetings misloop nie,” sê hy.
Van Wyk sê sy familie is groot rugbyliefhebbers. “Rugbytyd is ook familietyd wanneer my vrou, kinders en kleinkinders saamkom om die wedstryde op televisie te geniet. Heerlike versnaperings en ‘n vleisie op die kole is op die spyskaart,” sê Van Wyk.
Polokwane Sakekamerpresident, Simphiwe Mdlalose skuif ook al sy verpligtinge opsy wanneer die Springbokke op die veld draf.
“Ek is ‘n groot rugby-ondersteuner en gaan nie sommer ‘n wedstryd van Suid-Afrika misloop nie. Ek voorspel die Bokke sal ten minste tot in die semifinaal deurdring, maar ons hoop dat hulle die beker kan terugbring,” sê hy.
Hy sê hy en sy vriende bring gewoonlik tyd saam deur wanneer dit rugbytyd is en tydens vanjaar se Wêreldbeker sal dit dieselfde wees. Hy spog dat hy getrou sy Springboktrui sal aantrek wanneer die Bokke speel.
Bekende plaaslike rugby-afrigter wat die suksesresep agter BB Truck Noordelikes se eerstespan is, Frederik Romijn is opgewonde dat dit weer tyd vir die Wêreldbeker is.
“Ek is 100% oortuig dat Suid-Afrika die William Webb Ellis-trofee omhoog sal hou. Ons het ‘n goeie span met die regte houding en met die hele land se ondersteuning agter hulle. Hoekom sal hulle dan nou teleurstel?”
Hy erken hy is ‘n groot ondersteuner en die tradisionele rugbybraaivleis is altyd deel van die atmosfeer en fees in sy huis. “Die heel lekkerste is wanneer my vrou saam met my rugby kyk, al is sy nie ‘n groot sportmens nie,” sê hy.
Marius van Tonder van Vleislapa Marshallstraat sê gedurende die Wêreldbeker sal verkope van biltong en braaivleis definitief styg. “Dit is nie net met rugby wat ons veranderinge sien nie, maar tydens enige groot sportgebeurtenis is biltong en ‘n lekker vleisie op die kole deel van die pret,” sê hy.
Die Springbokke se eerste wedstryd teen Japan is volgende Saterdag, 19 September om 13:00.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Simphiwe Mdlalose.
Simphiwe Mdlalose.
Fotos: Argief  Frederik Romijn.
Fotos: Argief
Frederik Romijn.
Stan Mathabatha.
Stan Mathabatha.

Related Articles

Back to top button