Northam Rhinos is Limpopo-wenners

Die Limpopo klubrugbyfinaal is Saterdag op BB Truck Noordelikes se veld beslis en Northam Rhinos dra vanjaar die kroon. Noordelikes het sedert die afskop van die wedstryd belowende rugby gespeel en toeskouers was verseker van ‘n wen in die rooi masjien se guns met die eerste drie en doelskop wat hulle binne minute sewe punte …

Die Limpopo klubrugbyfinaal is Saterdag op BB Truck Noordelikes se veld beslis en Northam Rhinos dra vanjaar die kroon.
Noordelikes het sedert die afskop van die wedstryd belowende rugby gespeel en toeskouers was verseker van ‘n wen in die rooi masjien se guns met die eerste drie en doelskop wat hulle binne minute sewe punte op die telbord besorg het. Northam het vinnig besef dat daar baie op die spel is en met mening terugbaklei.
Noordelikes se CP Louw, Thyman Jongbloed, Shane Minne en Christo van der Merwe het elk ‘n slag agter die pale gaan kuier terwyl Ewan van Niekerk twee daarvan verdoel het en hy met ‘n strafskop geslaag het wat hul eindtelling op 27 gebring het.
Danie Loots van Northam was te vinnig vir Noordelikes se verdediging en druk drie drieë terwyl Chris de Witt met een drie slaag.
Juice Botha verdoel een drie en voeg ‘n verdere 15 punte by met vyf strafskoppe wat dié span se punte op 37 te staan bring.
Noordelikes se hoofafrigter, Frederik Romijn sê die gewilde Cell C Community Cup is eers einde volgende jaar en Noordelikes sal dus weer die geleentheid kry om voor dan aan die liga deel te neem en hul kans te verseker om vir die tweede jaar aan die Community Cup deel te neem.
Northam se afrigter, Gustav Grobler het sy span se sukses aan harde werk toegeskryf. “Ons het vanjaar hard geoefen, doelwitte gestel en dit uitgeleef. Verder is die wen te danke aan toegewyde spelers, afrigters en ondersteuners. Ons is in ekstase om as Limpopo-wenners uit ‘n taai stryd te tree,” sê hy.
Grobler sê hul leuse was om nede­rig te bly en nie te struikel nie. “Ons het elke wedstryd op sy eie hanteer en gesorg dat daar altyd ‘n positiewe houding na ‘n wedstryd gehandhaaf word. Ons het weggeskram om dinge te bespreek wat ons kon doen, maar eerder gefokus op goeie dinge wat gedoen is,” sê hy.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Sias van Wyk van Noordelikes wen veld.
Tiny Masemola gebruik die gaping.
Noordelikes se Thyman Jongbloed word vasgevat.
Wouter de Villiers ontduik sy opponent.
Exit mobile version