LettersOpinion

[MENINGSTUK] Plaasmoorde: NG Ring van Louis Trichardt ‘teleurgesteld’ in ASM

Die NG Ring van Louis Trichardt spreek sy teleurstelling uit oor die verleentheid wat uit die kring van die Algemene Sinode se Moderatuur (ASM) veroorsaak word met uitsprake oor plaasmoorde en die huidige verset oor plaasmoorde.

Die NG Ring van Louis Trichardt spreek sy teleurstelling uit oor die verleentheid wat uit die kring van die Algemene Sinode se Moderatuur (ASM) veroorsaak word met uitsprake oor plaasmoorde en die huidige verset oor plaasmoorde, na die moord op die jong boer, Brendin Horner van Paul Roux. Uit die kring van die ASM is daar ‘n uitspraak teen die president van die land gemaak dat hy in ‘n morele dilemma oor plaasmoorde sou wees, terwyl in hierdie uitspraak dit die eerste keer was dat uit die kring van ASM erken was dat party plaasmoorde ‘n eiesoortige karakter, anders as gewone misdaad sou hê. (Beeld 28.07.2020)

Voor dit was die eiesoortige karakter van plaasmoorde deur die kerk doelbewus doodgeswyg met die misplaasde opvatting dat plaasmoorde “gewone misdaad” is. In dieselfde verklaring word die president beskuldig van “ontkenning deur veralgemenings.” Nou is daar sopas weer uit die kring van die ASM die standpunt gestel dat die meeste plaasmoorde gewone misdaad is, maar dat party uit rasse-woede plaasvind. Hierdie onbeholpe morele standpunte uit die kring van die ASM, dat die eiesoortigheid van plaasmoorde rasse-woede is, is werklik misplaas en gevaarlik vir die landbougemeenskap en die hele land.

Dit is net so goed soos om bende-geweld, taxi-geweld, stam-geweld, die munisipale-geweld in landelike gebiede en die geweld van studente-opstande toe te skryf aan rasse-woede. Hierdie misplaasde morele oordeel wys op hoe hierdie saak tot nou binne die kring van die ASM self ontken en vermy is. Iets waarvan die president van ons land nou goedsmoeds uit hierdie kring voor verwyt word. Om die werklike eiesoortigheid van plaasmoorde as rasse-woede te veralgemeen is presies net die tipe ontkenning waarvan die ASM nou die president van beskuldig.

Hierdie veralgemening uit die kring van die ASM vuur rassisme aan en spreek nie die werklike probleem van plaasmoorde aan nie. Die Ring van Louis Trichardt het reeds op 6 Maart 2006 plaasmoorde aangespreek as strukturele verontmensliking van die landbougemeenskap in ‘n amptelike verklaring. (Sien “Strukturele verontmensliking en plaasaanvalle” op die webblad ngkerklevubu.co.za onder die opskrif “Brandpunte”).

Strukturele verontmensliking vind plaas deur die regering, besighede, gemeenskappe en kerke wat landbouers uitmaak as mense wat hulle plase onwettig beset teenoor die regmatige eienaars. Daardeur is landbouers openbaar gebrandmerk as kriminele wat nie met die reg van die staat, die gemenereg of die kerk se geloof op hul eienaarskap kan aanspraak maak, of om só gerespekteer te word nie. In hierdie karaktermoord het die regering, besighede, gemeenskappe en kerke, wat die NG Kerk insluit, tot nou toe lustig meegedoen. Nog onlangs is daar uit die kring van die ASM die suggestie gemaak dat die landbouers moet saamwerk as deel van burgerlike versoening met die onteiening van hul plase sonder vergoeding deur die regering.

Dit is deur hierdie karaktermoord uit alle kringe dat kriminele hulleself nou die reg toeëien om plaasmoorde te pleeg as ‘n vorm van regstellende aksie. In hulle misdaad volvoer hulle die karaktermoord wat reeds op boere gepleeg is deur die regering, besighede en kerke. Die landbouers se onmag teenoor hierdie karaktermoord, word gedemonstreer deur wrede mishandeling en die uitstalling van hul lyke as onwettige en moedswillige grondbesetters. Die regering, gemeenskappe en kerke kan dít egter nie só erken nie, want dan moet hulle met hul eie grypsug en misplaasde versoeningsbeelde ophou.

Die Ring het reeds sedert 2006 probeer om die NG Kerk oor hulle misplaasde morele standpunt aan te spreek en leiding te gee. Dit is in amptelike vergaderings van die NG Kerk doodgeswyg met die opvatting dat plaasmoorde gewone misdaad is en geen eiesoortigheid wys nie. Om hierdie strukturele verontmensliking en verontregting nou weer te ontken deur te maak asof die eiesoortigheid in rasse-woede gesetel is, is ‘n manier waarop die ASM hulself verontskuldig. Dit is nie die morele leiding wat hulle aan die gemeenskap moet gee nie. Dit regverdig het hulle vooropgesette beeld om deur versoening rassisme te wil fasiliteer terwyl hulself oorsaaklik aan die karaktermoord op landbouers is.

Die ring is net so teleurgesteld in die wyse waarop, uit die kring van die ASM, nou skielik op die geweld op Senekal ingespeel word asof dit ‘n geleentheid is om georganiseerde verset teen plaasmoorde en korrupsie te begin. Hiermee sanksioneer hulle die waanbeeld van verset wat nou aangevuur word en spreek weer nie die werklike morele probleem aan nie, terwyl hulle ook geen leiding gee oor hoe Bybelse verset moet lyk nie. Die Ring van Louis Trichardt het reeds sedert 1997 leiding gegee vir die vorming van die Noordelike Sinode se amptelike beleid oor Gereformeerde verset van 17 Oktober 2008.

Die waanbeeld is dat mense uit alle kringe nou ‘n gedramatiseerde veldslag op Senekal fantaseer en organiseer, met sentimente van Bloedrivier en ander oorwinnings. Vir hierdie geromantiseerde veldslag moet mense hulself nou as offers aanmeld om deur anonieme leiers op selfone in slagordes opgestel te word. Hierdie godsdienstige-politieke drama sal werklike effektiewe verset teen die regering oneindige skade aandoen. Verset teen die regering is ‘n godsdienstige plig wat oor jare en dekades volgens vaste waardes uitgevoer moet word. Dit is nie godsdienstiges dramas wat kragdadigheid vertoon nie. Om ‘n Bloukrans vir mense op Senekal te organiseer wat ‘n Bloedrivier fantaseer, is net so koelbloedig soos om ‘n plaasmoord te pleeg.

As Ring onderneem ons dat ons, soos ons dit sedert 2006 reeds doen, steeds ons lidmate sal lei om die eiesoortige karaktermoord waarmee openbare instellings hulle die slagoffers van kriminele maak, aan te spreek, en saam met hulle onsself teen hierdie bloeddorstigheid sal beveilig en sal verweer. Ons onderneem ook dat ons, soos dit al sedert 2006 doen, ons volgens die waardes van ons Gereformeerde geloof teen die regering se kleptokrasie en onderdrukking sal verset. Dit sal ons met passiewe verset doen, en wanneer dit ‘n kollektiewe verantwoordbare onderneming van die gemeenskap is, dit ook met verantwoordbare aktiewe verset doen. Dit sal ons probeer in samewerking met die Noordelike Sinode van die NG Kerk doen om buite die huidige disfunksionele moraliteit uit die kring van die ASM van die NG Kerk en opportunistiese anargiste te bly.


Vrywaring: Noordelike Media Groep moedig vryheid van spraak en die uitbeelding van diverse menings aan. Die menings en standpunte van rubriekskrywers wat in NMG gepubliseer word, is hulle eie en nie noodwendig die menings en standpunte van NMG nie. 

Disclaimer: Northern Media Group encourages freedom of speech and the expression of diverse views. The views or opinions of columnists published in NMG publications are therefore their own and do not necessarily represent the views of NMG


For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button