BlogsOpinion

Aarde, maar dis nat

A.G. Visser se Noag het na die sonvloed gêse: “Aarde, maar dis nat, nou kan ‘n man weer tuin maak!”

Ek stem. Die Bosveld was oral so droog. Manne het al begin om oedelose praatjies op die kooperasiestoep te maak. Maar, soos my ou buurman altyd gese het, dit reen altyd weer. Soms vat dit net ‘n bietjie langer. Hy het ook gese, boer is nie vir sissies nie en dat hy so jammer is vir sy grassies, hy trek sommer die beeste in die bome op.

Vandag, toe die sonnetjie vir amper die eerste keer in tien dae uitkom, kon jy behoorlik die gras hoor gorei, voete/minuut.

Ek weet eerlik nie hoe ‘n mens kan boer sonder geloof nie. Dis nie dat ek dink daar is ‘n afgrond tussen wetenskap en geloof nie, glad nie. Geloof is immers ‘n vaste vertroue in dit wat jy nie kan sien nie en niemand kan met die blote oog ‘n molekule of die einde van die heelal sien nie. Boerdery is al hoe meer ‘n wetenskap. Die manne wat soggens op die stoep met die koffie in die piering so na die wolkies gestaar het en dan besluit het wat om te doen, is amper almal onder die kluite. Die bedryf raak al hoe meer gespesialiseerd. Maar steeds is dit nie voorspelbaar nie. In tonnels en kweekhuise en met spilpunte kan die illusie van beheer geskep word, maar dis steeds onvoorspelbaar omdat daar onbeheerbare elemente is, omdat jy met die natuur werk.

Die lewe is ook maar soos ‘n boerdery. Soms beplan jy, werk jy, bid en smeek jy, maar dinge gebeur eenvoudig nie soos jy dit graag wil he nie. Dis moeilik vir die beheervrate onder ons, veral as jy nog haastig van nature is ook.

As kind het ek soms my ouma se geduld vir gelatenheid aangesien. Ek het soms gedink sy is maar net moeg en gedaan, dat sy nie elke dag genoeg veggees oor het nie, of dat sy my oupa op haar kop laat sit. Nou weet ek, dit is nie so nie. Haar geduld het haar lewe vir haar makliker gemaak. Sy kon stilbly en geduldig wag tot die regte oomblik. Sy kon kinders hulle emosies laat uitpraat, sonder om self ontsteld te raak, en dan as die vulkaan klaar uitgebars het en die stortvloed bedaar het, kon sy haar wysheid deel. Daar is soveel dinge in die lewe wat ‘n mens nie kan beheer nie. Daarom moet jy jou gevegte goed kies en soms ‘n veldslag verloor om die oorlog te kan wen.

Dit beteken jy moet geduldig wag vir die reen. Jy moet voorberei en bereid wees om uit te hou en aan te hou. Jy moet ‘n plan B en C en soms D, E, en F he. Jy moet gereed wees, want net soos reen, is droogte ook onvermydelik. En soms verras die lewe jou, soos die reen. Een ding is seker: ons is nie regtig gerad vir dae lange reen en natigheid nie. Klere word nie droog nie, werk kom nie klaar nie, dakke is nie dig nie en matte muf, nat skoene en honde wat dringend ‘n bad kort. Nie dat ons kla nie. Die Wes-Transvaalse geelperske reen is altyd welkom!

Die lewe, soos boerdery, is nie vir sissies nie.

Geloof is bloot geduld. Net omdat jy iets onmiddellik nodig het, voor vra of wil he, beteken nie dis die regte tyd daarvoor nie. Soms moet jy geduldig wag tot die tyd reg is. Daarom noem mens dit geloof.

En kyk net . . . dit reen altyd weer en in oorvloed.

editor@nmgroup.co.za

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button