BlogsOpinion

Rookseine en ander boodskappe

Dis my mening: Ek wil graag die relevante nuus hoor, maar sonder die groetery en blommetjies

In die Wilde Weste het Indiane boodskappe met ‘n misvuurtjie en ‘n kombers gestuur.

Dis nogal ‘n goeie idee, maar soos met alle boodskappe het dit sy probleme gehad. Die probleem daarmee is dat jy nie ontvanger kan kies nie. Daar’s geen “To:” in die adreslyntjie nie. Almal wat oë het kan jou boodskap lees en hopelik lê die een waarvoor dit bedoel is nie onder ‘n maroelaboom en ‘n uiltjie knip nie.

Daarna was dit Morse-kode. Maar wie kan al daai dotte onthou. Ek sien al vir mamma met haar oor teen die waterpyp: “Pappie, wat beteken ses langes nou weer?”

In ons land moes jy maar ‘n Boesmantjie met ‘n mikstok stuur. Ten minste kon jy dan vir Koos ‘n brief stuur wat hopelik net by Koos uitgekom het. Dis nou as ‘n leeu nie langs die pad die boodskap onderskep het nie.

Toe was daar die poskantoor. Dit was redelik betroubaar vir ‘n ruk. Daar was natuurlik die posman in Potch wat ‘n sak pos in die stormwaterkanaal afgegooi het. Sy verskoning in die hof: “Dit was blerrie warm, U Edele en ek was blerrie moeg!” Maar deesdae gebruik niemand meer die posdiens as hy dit kan help nie. Hulle is seker maar almal baie moeg.

Boere gebruik deesdae radio’s. Dis ‘n baie belangrike kontakmiddel en ‘n goeie veiligheidskontrole. Vele kere is misdaad ontdek of voorkom met die hulp van hierdie radio’s. Dis nou as iemand jou kan hoor. (Ons huis is skynbaar in ‘n gat. Ek kan almal hoor, maar niemand kan my hoor nie. (Klink soos ‘n man se droom!)) Die radio is soos die ou partylyn. As jy nuuskierig van geaardheid is, kan jy heeldag sit en luister na almal se nuus van sover die opvangs strek! As jy nie nuuskierig is nie, sal jy dalk erg geirriteerd raak met tannies en tieners wat nie al die etiket van radio ken nie.

En deesdae is daar die selfoon en die Klets-groep. Dis vir my amper so gevaarlik soos die rookseine. As daai sein uit is, is hy uit! Die hele wêreld kan dit sien! ‘n Vingerfout kan jou op die nasionale nuus laat beland.

Dan is daar diegene wat nie mooi verstaan wat groep-nuus is nie. Ek is op twee sulke groepe. Ek wil graag die relevante nuus hoor, maar ‘n paar mense voel hulleself gedwing om elke dag te groet, ‘n blommetjie aan te stuur en dan almal dankie te sê. Dan mis jy belangrike nuus so tussen die fieterjasies deur.

Die ergste van alles is ‘n noodberig. Dis gewoonlik iets wat begin met: “Bid asb vir . . . “ Ek le dan die hele nag wakker en bekommer my oor ‘n kind of ‘n dorp. Die gebed is dikwels nodig, maar wat vir my erg is, is die feit dat jy soms nooit weer iets daaroor hoor nie. Niemand weet waar die boodskap begin het nie en niemand weet wat gebeur het nie. My hart kan dit nie hou nie.

Net soms kom die boodskap deur dat dit ‘n vals berig is.

Gelukkig is gebed nooit verlore nie. Of hoe?

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button