‘n Leeftyd se kou wat steeds hou

Black Friday was verlede Vrydag inderdaad donker met honderde mense wat vroegoggend voor die groot inkopiewinkels saamgedrom het.

Die oomblik wat die deure oopgemaak is, het die stormloop begin en trollies is in rekordtye deur die volgepakte rakke gestoot en boepensvol gelaai.

Ek en ‘n kollega het die storie fyn beloer. Min Black Friday winskopies wat die moeite werd is – dié wat wel R2 of so goedkoper afgemerk is, is Kers- of feesgety ‘specials’. So tussen die groet van dominees, dokters, sakemanne, leerkragte en tuisbly ma’s sien ons die inkopiegangers voor ons is so verblind dat hulle nie eens behoorlik lees wat op die rakke staan nie en verbete laai sonder om te besef môre en volgende Vrydag is die ‘special’ nog daar.

Hierdie donkerdag kitskuur is ‘n groot gier wat ons tropdier mensdom in ‘n oogknip opgeslurp het. Dit laat winkelbase lekker lag oor hulle goeie profyt. Kyk net hoe ophol kan die mens raak! ‘n Luiperd welpie word vasgetrek en verkeerde inligting op sosiale media dat die ma en nog ‘n kleintjie in ons strate kattemaai, versprei soos ‘n veldbrand en het die ganse gemeenskap op loop.

Staan ek en Jolandi Fourie verlede week saam met die betogers voor die ANC kantore word ons nie net gevloek en sleggesê nie, maar ook gedreig met die dood en staar ons aanranding met kieries in die gesig sou ons dit waag om die kliekknoppie van ons kameras te druk. En al wat ek daardie aand in my geestesoog sien is die talle vroue, jonk en oud, in hulle geel T-hemde wat luidskeels protesteer en terselfdetyd hulle fustrasies op die kougom in hulle kieste uithaal.

‘n Blokkie kougom se leeftyd is inderdaad lank, want teen die tyd dat die son begin water trek, word daar nog steeds met mening gekou. Dit is seker wat ‘n mens ‘n winskopie noem, want waarde vir geld is dit gewis.

Die Chappie van toentertyd was die goedkoopste lekkerny in die winkel en vandag is kougom steeds die nommer een koutjie wat talle mense in ons land laat vergeet om nie al hulle stopsels vir die wêreld te wys nie. Destyds was dit twee vir ‘n sent, ‘n klein blokkie netjies in ‘n gestreepte papiertjie toegedraai en die verrassing of jy ‘n groen, blou of pienke kry as jy dit oopmaak. Jou tong en gesigspiere werk dan heelpad oortyd soos jy hom sag en gedaan kou.

Die lekkerste as kind was om met jou ‘bubblegum’ borrels te blaas. Groot, groter, grootste…totdat dit in jou gesig bars en jy van vooraf begin kou en herkou, met almal in die skoolbus wat raad gee hoe om die Guinness Book of Records te haal met die wêreldrekord vir die grootste ‘bubble’.

Later is die Chappies vir die kleintjies gelos en verliefde tieners het ‘Beechies’ gekoop en gedeel. Dit dien veral as ‘n lewensredder as jy geëet of gerook het. Sou jy in my pa se motor klim met ‘n koutjie was die gort gaar en word dit in jou hare geplant is ‘n haarsny jou voorland. Hoe dit ookal sy, ‘chewing gum’ wat so kan rek, strek en plak is streng verban in klaskamers waar die kouers dit gewoonlik liefies onder die skoolbanke en teen die kleedkamer se mure vasgegom het.

Al ooit gewonder waar hierdie rubber kouseltjie nou eindelik vandaan kom? Ek lees ‘n Mexikaanse Generaal Santa Ann het die sap van ‘n Sapodilla (Chicle) boom gekou. Die generaal het dit toe aan ene Thomas Adams, ‘n uitvinder, gewys en in 1870 het Adams die eerste kougomfabriek oopgemaak. In 1871 het Adams die eers gegeurde kougom ontwikkel naamlik Black Jack wat ‘n liquorice smaak gehad het. In 1880 het ene William White ‘n ‘corn syrup’ wat ‘n pepermint smaak het, bygegooi sodat die geur langer hou.

Chicle is sagter as rubberbande en versag as dit warm gekou word en verhard as dit koud is. Dis dan wat dit soos prestik teen die muur gaan sit. Versagter wat van dennebome afkomstig is, word vanaf 1914 deur die Wrigley maatskappy gebruik as basis. Soms word latex gebruik. Natuurlike latex is van die sap van bome in reënwoude.

Het jy geweet as ‘n mens kougom insluk, word dit nie verteer nie? Dit bly vir dae in jou sisteem, totdat die koutjie as een stuk uitkom. Die beste raad: Kou (toemond), maar moet liefs nie sluk nie.

Exit mobile version