BlogsOpinion

Spieeltjie, spieeltjie . . .

Te midde van: Spieeltjie, spieeltjie aan die wand, wie’s die . . . mooiste/dikste/dunste/leilikste in die land?

Ek moet vandag bieg. Ek lyk nie meer heeltemal soos ek 15 jaar terug gelyk het nie. Ek lyk ook nie soos ek graag sou wou lyk nie.

Dis nie dat ek ontevrede is met myself nie. Ek is dankbaar vir soveel dinge wat ek het en wat ek is. Dis net, soos my pa laterlik gese het, daar’s soveel meer van my om lief te he.

Ek wil net graag so effens minder wees, net sodat mense wat duidelik net so oud of ouer as ek is, nie meer vir my tannie se nie. Praat maar van diskriminasie, maar maer mense diskrimineer teen vet mense. Dis waar. Daar is  ‘n stigma, al is dit soms minder sigbaar, dat vet mense so effens agter is, dalk armer, dalk minder begaafd, minder ingelig, effe dommer en beslis minder mooi.

Ons weet almal as ons bewustelik daaroor dink, dat dit nie so is nie. Maar ek het dit self al ervaar. Mense onderskat my gereeld omdat ek ‘n dik tannie is. (Skies, dat ek net eers die trane van die sleutelbord afvee.)

Net soos met depressie is obesiteit ‘n siekte. Soms is daar fisiese oorsake soos ‘n skildklier en wie weet wat nog wat nie werk nie. Soms is depressie die oorsaak van die verslawing aan kos. Maar om te veel te eet is nie altyd bloot ‘n bewys van ‘n gebrek aan selfbeheersing nie. Niks is ooit so eenvoudig nie. Vra maar vir ‘n roker of ‘n drinker.

Maar ek praat nie vandag oor daai dinge nie.

Ek wil eintlik oor myself praat.Dis to wie jy in die spieel sien: net jouself. En ek het ‘n spieel.

Iets wat ek graag vir ‘n hele paar mense wil se. Soos my dierbare moeder. Soos met alle ma’s is alles wat sy doen en se daarop gemik om my te help. Oppad na ‘n belangrike afspraak, vra ek ma se raad oor my uitrusting, want ek vertrou haar opinie. Sy sien dit as ‘n goeie tyd om raad te gee: “Het jy ‘n step-in?” (Vir die nuwe generasie: dis ‘n broekie wat so styf pas dat dit alle vette mooi in toom hou. Mens kry dit nou in vollengte lyfkous.) Maar ek het nie so een nie.

Haar volgende missie is om die probleem te probeer oplos: “Ek kan nie verstaan hoekom jy die afgelope vyf jaar so baie gewig opgetel het nie. Jy eet tog nie so baie nie. Jy hou nie eens van soetgoed nie.” En kort daarna: “Jy het ‘n bietjie gewig opgetel, my skat!” of “Jou pa het ook so ‘n groot beenstruktuur gehad.” (Terwyl ek net so lank soos sy is.)

Ek het ‘n spieel! Ek kan nie help dat ek die gene van ‘n stoetkoei het nie. As ek moes punte kry vir GDT (Gemiddelde daaglikse gewigstoename), sou ek as superkoei deur Farmer’s Weekly gekroon moes word.

Ongelukkig is ek nie ‘n koei nie, maar ‘n vrou, wat op my dag jonk en mooi en maer was. Om die waarheid te se, het ek minder geweeg as beide my beeldskone dogters. En al is daar soveel meer van my, is dit nog steeds net ek.

Net ek, wat terugkyk uit die spieel . . .

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button