BlogsOpinion

Susters in die verdrukking

Te midde van: Die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou Unie (SAVLU) word volgende week 85 jaar oud.

Dit is ‘n organisasie wat gebore is uit die nood van plattelandse vroue wat graag hulle self wou verbeter en mekaar bystaan. Mense vergeet dat hierdie land aan die begin van die vorige eeu in as was en dat die mense sonder kos, sonder en sonder geld, baie familie- en plaasloos, hulleself moes ophelp uit die depressie uit. En nee, dis nie die soort depressie wat mens Prozac voor gebruik nie. Die Groot Depressie van die dertigerjare het mense, wat pas begin herstel het na die Engelse oorlog, weer teen die toue en plat op die planke gehad. My ouma moes uit meelsakke vir my pa broekies maak. My oupa, wat geglo het, kos voorsien is ‘n boer se plig, het geweier om meer betalende produkte soos katoen te plant, omdat hy geglo het dis sy plig om die land van kos te voorsien. Hulle het groente enroom geruil vir ander voorrrade.  Dis nou dieselfde oupa wat van tent tot tent moes loop en bedel vir ‘n bietjie melk vir sy babasussie in die konsentrasiekamp en wat later moes honger ly in die kinderhuis nadat sy pa as krygsgevangene weggeneem is en sy ma en sussie in die kamp dood is.

Mense weet nie meer dat organisasies soos die VLU vroue geleer het om voedsel in te le, om gebalanseerd te kook op ‘n eenplaat-parafien-primus of om klere te maak en te brei en te hekel nie.

Vroeer die jaar het ‘n suur man die VLU beskuldig dat hulle ‘n koek en skinner klub is.  Daar is dalk hier en daar wel so ‘n geval, maar die meeste takke hou steeds die doel van die organisasie voor oe, nl. Die opvoeding van die volwasse vrou.

Ek voel dat die organisasie juis nou ‘n reuse taak het. Dogters word nie meer geleer hoe om knope aan te werk of some aan te sit nie. Basiese kookkuns is nie meer ‘n gegewe nie en al hoe minder kinders kan brei of hekel. Jy kan dit maar ‘n outydse kuns noem, maar met almal wat al hoe armer words, word die vrou gedwing om weer vanuit haar huis, al is dit nie as huisvrou nie, haar gesin te versorg.

Ek het weer verlede week opnuut besef hoe groot die behoefte in die afgelee landelike gebiede is. Daar is vroue wat, werkloos in ‘n sink huisie, nie weet hoe om groente en vrugte te bottel of te droog nie, wat nie ‘n gaatjie kan heelmaak of ‘n mussie kan hekel nie. En hulle is honger vir die inligting.

Die SAVLU en ander soortgelyke organisasies het ‘n nuwe uitdaging, nl. Om in die moderne omstandighede weer die leiding te neem om veeral vroue te bewapen teen die aanslae van die ekonomie en sosiale omstandighede. Na 85 behoort hulle goed te weet watter verskil julle kan maak!

Lekker verjaar!

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button