Dope, troues en begrafnisse

‘n Mens se lewensstadiums word gemeet aan die tipe geleenthede waarheen jy uitgenooi word.

Vergeet nou maar van daardie eerste verjaarsdagpartytjies wat mens jare later oor wonder wie Nolsie nou eintlik was. Ek praat van die groot dinge, soos huwelike, dope en begrafnisse.

Op ‘n sekere stadium val jy onvermydelik in die een of die ander groep. Al jou vriende, broers en susters, neefs en niggies trou. Dis ‘n feestelike geleentheid waar jy gewoonlik nog in iets modieus en pragtigs pas, waar die ooms jou graag wil soengroet en jy heerlik tot toemaak-tyd toe dans. As jy diaste een is wat trou, is dit nie altyd ewe prettig nie. Daar is mos die ou grappie oor die tantes wat altyd vra wanneer dit die oujongnooi se beurt is vir die troue, tot sy hulle by die volgende begrafnis begin vra het, wanneer dit hulle beurt is.

Dan is daar die doop- of inseeningsgeleenthede. Dis wonderlik om ‘n kind in ‘n familie te verwelkom en by te wees as hy of sy hul naam kry. Tensy jy natuurlik die een is wat steeds kinderloos bly.

Maar ook dit, soos die troues, gaan verby. ‘n Mens kom seker ook op ‘n stadium waar kinders trou en jy die ou tante of oom is wat kla dat die musiek te hard is en die kinders te laat dans. Die eerste van my susterskinders trou volgende jaar, dus sal ek later hieroor kan verslag doen.

En dan is daar die een geleentheid waar niemand jaloers, of agter voel nie: die begrafnis. Elkeen van ons moet tragies genoeg begrafnisse bywoon deur ons lewens. Maar daar kom ‘n tyd dat hulle, soos my skoonma se: “in ons bos begin kap”. Dis wanneer jy die groot mense voor jou begin begrawe, of wanneer jy jou vriende begin begrawe.

Dis vreeslik om te besef dat nie net nog ‘n fase van ‘n mens se lewe verby is nie, maar dat die lewe self amper verby is. Wat jy wou doen, moes jy gedoen het. Jou emmer-lysie behoort al goed afgemerk te wees, as jy ooit tyd gehad het vir een. Dis tyd om te weeg wat gedoen is, wat die moeite werd was en wat kosbaar is en altyd sal bly. Dis nie vir sissies nie.

Ek was nou die dag by ‘n begrafnis. Al die grys koppe wat kom afskeid neem het, was vir my tegelyk hartseer en gerusstellend.

Jacques Brel het ‘n liedjie geskryf: “The old folks” wat presies verduidelik hoe ek gevoel het. “They hold hands like children in the dark, but one gets lost anyway . . .”

Elke dag kan elkeen van ons se laaste wees, maar teen ‘n sekere ouderdom is die statistieke teen jou. Dis ‘n cliché, maar dis waar: “Leef elke dag of dit jou laaste is, want dit mag dalk net wees!”

Ek hoop dat as ek gegroet word daar ook soveel vriende en geliefdes is wat deur hul trane kan glimlag.

Exit mobile version