Die ‘Spring-feeling’?

Dis net ek wat nog glad nie die ‘Spring-feeling’ het nie

Dis heerlike lente en in die Bosveld is die winter beslis verby.

Die kinders se lang winterkouse hang op hulle skoene en teen die middel van die dag, blink al die middeljarige tannies van die sweet. Die bos begin groen skyn en al wat ‘n gogga is wil dans in die velde en zoem teen die gaas.

Dis net ek wat nog glad nie die ‘Spring-feeling’ het nie. Augustusmaand se winde waai nog stowwerig deur my kantgordyne tot in my siel. Die grasperk is stekelrig en die vliee irriteer my.

Hoe meer ek skoon maak, hoe stowweriger lyk alles. Skoon het mos maar die manier om af te steek. Laat alles ewe stowwerig en niemand kom niks agter nie. Maak skoon en almal sien die vuil rondom raak.

Die wintervetjies sit nog net waar hulle sit en ek’s nie eens lus om te kyk of enige oefenklere pas nie. My winterserp le halfpad om die breinaalde gedraai en ek het nog nie die sop gekook waarvoor ek al heel jaar lus het nie. My bolle is nog nie geplant nie en my arme kind wag nou nog vir ‘n nuwe winterbaadjie.

Iewers is die winter heen, so tussen neus en oe.

En ek hou nie eens van die winter nie. Ek sal nooit in die Kaap aard nie: koud en nat maak my mistroostig. Vanjaar was dit koud en bitter droog in die bos: amper ewe mistroostig.

En hier oorval die lente my. Ek voel ek moet iewers langs ‘n borrelende fontein gaan sit, waar duifies koer en groen blare deur ‘n sagte windjie. Ek kort ‘n herlaai en daar’s nerens waar ek sommer ‘n vinger in die kragprop kan indruk nie.

Dalk is dit tyd vir ‘n oordoen-sessie vir my. Nuwe haarstyl, nuwe uitrusting en sommer ‘n lekker piep en pamperlang-sessie. Ek moet ontgif, ontgrys, ontvet en ontwinter.  Ek kort ‘n huppel in my stap, ‘n wip in my kuif en ‘n giggel vir die siel.

Ek weet ek kort dit, maar al die geld is op verf en lentedag-uitrustings vir kinders geblaas . . . en buitendien dink ek dis tyd vir ‘n laaste vinnig hibernasietjie.

Sien jou later!

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version