BlogsOpinion

‘n Trekkery! en die kat kom saam…

Hier's deel 2 van die groot trek - Ek trek nie, my ma trek. Na my toe!

Ek glo nie ek het jou al van Kat vertel nie. Maar die storie van my trekkery sal nie klaar kom sonder die storie van Kat nie.

Dit begin net meer as twee jaar gelede. ‘n Kort rukkie na my pa dood is, het die grootste swart  kat wat ek nog gesien het, by my ma se huis opgedaag. Hy het ‘n wit bors en maag met wit voetjies en hy is ‘n regte kwaat-kat. Eers het my ma hom verjaag, want sy hou nie eintlik van katte nie. Maar Kat het eenvoudig nie geloop nie. In die dag flikfooi en kuier hy en in die nag is hy uit op die groot jag. Toe gee ons maar lateraan ‘n bietjie melk. Kort voor lank, word ek gestuur om katkos te koop, want lyk vir ma of kat oorskiet eet by ander mense.

So word Kat deel van ons gesin. Hy waak oor ma wat soms alleen moet bly. Hy verjaag die bure se worshond met een kyk van die erf af en byt jou sommer as jy te vinnig in die gang wil afloop.

Kat vat nie twak van kabouters nie.

Een dag, begin Junie, daag Kat beseer by die huis op na sy nagtelike eskepades. Hy het ‘n sny van ‘n goeie 8cm van sy stertwortel af met sy rug langs. Dis duidelik dat hy diep in sy eer gekrenk is en wil heeltyd die ou vang wat hom dan so van agter bykom. Ma is buite haarself.

Nou een ding moet jy goed verstaan: my man haat katte. Hy kry die allervreeslikste hooikoors, jollie-jeuk en sinus van ‘n kat. Op die plaas het ons seker 12 katte, maar hulle bly almal buite en doen hulle ding ver van hom af. Daarom moet jy mooi verstaan, dat dit nie vir hom maklik of lekker was om toe vir Kat veearts toe te moet vat nie . . . in sy bakkie nogal. En vir die kersie op die koek, moet hy (watnie eens die veearts roep vir sy spog bul nie)  toe nog R 1 500 opdok vir ‘n kat! Maar Kat is so bly om hom te sien, dat hy sommer uit die veearts se hok binne-in manlief se arms spring!

Toe dit tyd word vir die trek, los ek maar eers die onderwerp van Kat. As ma moet plaas toe, moet Kat ook en hy slaap langs haar op die bed!

Tot my verbasing, een Sondag na kerk, terwyl ons ‘n paar stukkies meubels laai, sit Kat bo-op die lessenaar bo-op die bakkie en manlief merk ewe droog op: “Lyk my dis tyd vir Kat om te trek!”

Ek gryp Kat se bakke en kos en spring in. Dis ‘n nagmerrie-rit met die reuse kat wat nerens anders as op manlief se skoot oor die stuurwiel wil sit en ry nie. Eindelik op die plaas hou ons hom die eerste dag in die huis.

Teen skemer vat ek hom op die voorstoep, waar minder ander katte is, uit om ‘n draai te loop. Hy draf ewe kordaat en voor ek mooi kan sien waarheen, verdwyn hy in die donker. Maar die bravade was van korte duur. Ek hoor ‘n naguiltjie blaas, die elektriese heining klap en sien hoe Kat soos ‘n swart-en-wit-blits verby my die huis instorm.

So is dorpskat toe nie plaaskat nie. Elke keer as dit sulke tyd is, moet een van ons saam loop. Net om die vernedering nog te ondersreep, is daar nou ‘n piepklein wit en vaal katjie wat ook op die voorstoep kom sit en Kat die ‘Dood-staar’ gee. Vergete is die mannemoed wat worshonde in hulle spore stuit. Nee, ek moet eers die katjie verwyder voor Kat hom sal verwerdig om uit te gaan.

“Die grootste sissie in die Bosveld!” is al wat manlief se, en ek maak maar of ek nie hoor as hy en Kat soggens saam-saam uitglip vir die natuur se roepstem nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button