Die Lodge- en die boskamp-tannies

Te midde van: Elana Greyling Ek, groot mond en al, het myself soos gewoonlik weer in die moeilikheid ingepraat.

Ek het vandag besef wat fout is met my.

Ek, groot mond en al, het myself soos gewoonlik weer in die moeilikheid ingepraat. Dis niks snaaks vir ‘n adrenalien-junkie nie en siende dat ek nie meer gebou is om van watervalle af te spring en tussen haaie te swem nie (hulle eet nie walvisse nie), dink ek nou my eie moeilikheid op ‘n gereelde basis uit. Dis natuurlik vir my man ‘n steen des aanstoots, ‘n meulsteen om die nek en ‘n maalklip in sy skoen. Maar nou ja, ons het maar almal ons eie kruis om te dra.

Dis nou hoe ek vanmôre hier by die kunsmark sit. Ons het ‘n reuse organisasie, soos dit maar gaan en soos dit met vrywilligers gaan, moet jy mos mooi vra, jy kan nie opdragte gee nie. Ek moes net een tafel reël, maar my vriendin het die veel groter organisasie te doene gehad. Elkeen was veronderstel om alles, van die gras af op, aan te ry. Of so het ons gedink. Toe breek die nag voor die tyd aan.

Soos die van julle weet wat al ooit iets prober reël het, kan die nag tussen in jou red of jou sink. Dis dan wanneer mense bel en vra of jy darm onthou het om vir hulle ‘n tafel te reël. Of die koek het platgeval, óf die worshond het kleintjies gekry, óf die kalf is in die put en die man ‘n brombeer.

Dis ook in daardie nag wat ‘n mens ‘n serp kan klaar brei, drie waslappe omhekel, twee koeke kan bak en ten minste drie panne muffins kan gaar bid.

Soos dit nou ook maar gaan met nagte, daal die dag, die wind steek op en my man laai my kort na dagbreek af; tafel, kampstoel, koekerasie en al. Dís toe ek nou mooi hoor wat werklik fout is met my.

Agter my pak twee tannies uit en die woorde en die wind waai ewe vrolik. Die een het die tafel vergeet en die ander kon slegs twee skinkbordtafeltjies optower.

“Ja,” se die tannie met die 80’s-haarstyl, “toe jy darm gisteraand vir my se jy het net twee skinkborde, was dit regtig nie snaaks nie.” Ek sien aan my vriendin se gesig dis ook nie vandag vir haar so snaaks nie. Toe die hare-tannie wegdraf, stap ek oor na die ander vrou toe.

Haar verontwaardiging stroom sommer oor die gras tot hier by my.

“Ek het nie ‘n lodge met dertig tafels, nog meer werkers, Cruisers en ‘n afgetrede man nie!” Dit slaan my soos ‘n voorlaaierskoot tussen die oë, dis wat fout is met my – ek is ‘n boskamp-vrou, nie ‘n lodge-tannie nie.

Ek is gewoond om klaar te kom met wat ek het, om planne te maak rondom die realiteite van wat voor jou is. Dit het beslis ook heelwat te doen met my handige man, wat vining kan planmaak met ‘n stuk bloudraad en ‘n tang. Hoe sê my sussie? “We fake it, ‘till we make it!”

Dit is beslis nie hoe dit met die lodge-tannie gaan nie. Sy maak eers haar planne en dan moet dinge rondom haar sommer vanself gebeur. Mense ry vir haar goed aan, ontwerp vir haar goed en laat dit magies verskyn. Jy weet, daar’s niks wat genoeg geld nie kan regmaak nie!

Daar is beslis twee soorte vroue, wel, ten minste twee – dié wat planne kan maak so deur die lang nag, en dié wat groot kan dink, ongeag die omstandighede.

Maar laat ek regmaak vir my boskampdemonstrasie, voor die lodge-tannie met my raas.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version