Dis ‘n voorreg om ‘n goeie pa te hê

Te Midde Van: Elana Greyling

Dis al weer tyd vir Vadersdag en dit sal my derde wees sonder my eie.

Tyd vlieg en die wiel draai. My oupa het altyd gese: “Time and tide waits for no man!” Hoe ouer mens word, hoe waarder word dit. Kort voor lank is ek deel van die laaste generasie voor hulle in ons bos begin kap. Dit laat mens dink aan al die pa’s, oupas, ooms, ouboete in jou lewe.

Dis ‘n voorreg om ‘n goeie pa te hê, is dit nie? ‘n Pa behoort daardie man te wees by wie jy bo alles veilig voel, by wie jy geen onbeantwoorde vrae of bekommernisse het nie, wat sy baadjie oor jou gooi en die wereld se moeilikheid van jou kan weghou. ‘n Pa behoort daardie man te wees wie se hande groter as jou gesig is, wat om jou eie hand kan vou en die hitte van sy altyd-war-hande in jou kan opstoot soos bloed deur jou are. ‘n Pa behoort daardie man te wees wie se stem altyd koel en bedaard is, behalwe natuurlik as Thys Lourens droogmaak of Carel du Plessis sy moue opstoot voor hy ‘n bal vang. ‘n Pa behoort daardie man te wee swat alles van alles af weet, wat jy maar enige ding kan kom vra en hy kan jou antwoord met ‘n wysheid en ‘n aanhaling. ‘n Pa behoort daardie man te wee swat vir jou gekookte eiers en Kerrie-witsous, of piesiangs drie maal ‘n dag gee as ma weg is (wat jy sonder kla eet, al sit jy nooit weer jou mond aan Kerrie-eiers nie). ‘n Pa is ‘n man wat jou verby die wolke kan swaai, op sy skouers dra, vir jou spookasem op Durban se strand koop en vir jou stories op die stoep lees as die res van die huis nog slap.

Ons het almal dieselfde sort pa nie. Party pa’s is die naam nie werd nie.  Party pa’s, is soos die meeste van ons, ook maar net mens. Hulle maak foute, is te streng of te toegeeflik omdat hulle ook nie altyd weet  wat die regte ding is om te doen nie. Hulle kom laat om jou na sport op te laai, verskil van jou kleresmaak, haarstylsmaak, boyfriendsmaak en wil glad nie sien dat hul kinders die dinge doen wat hulle self uitprobeer het nie. ‘n Pa haal soms sy frustrasies op ander uit, ook op vrou en kinders. Partykeer is ‘n pa se wysheid en moed, geduld en krag en glimlagte raak soms op.

Maar gelukkig is kinders ook nie volmaak nie. Vra my, ek het nog heelwat van sulkes in my huis.

‘n Pa is daardie man wat jou bo alees en ten spyte van alles, tienerskap en wisdom inkluis, nog steeds lief het, net omdat jy jy is.

Gelukkig Vadersdag vir al die pa’s!

Exit mobile version