BlogsOpinion

Wilder as die Wildtuin

Te midde van: Mense het hul vriende al vergelyk met die interessantste dinge denkbaar...

Daar was bome: die vriendin wat soos die palmboom in die wind buig, maar bly staan. Of wat soos die bamboes is, so sterk juis omdat sy so buigsaam is.

Daar is vriendinne soos blomme: die lelie, skaars en baie besonder, of die magrietjie, altyd sonnig en tot diens bereid. Daar is vriendinne soos disse, die boef borgonoi, ryk en vullend, of pannekoek vir daardie reenerige dae, koffie en beskuit vir elke dag se kuier.

Of die aarappelslaai-vriendin, waarop jy altyd kan staatmaak en die koper-pennie-wortelslaai-vriendin, waarsonder jy dalk kan klaarkom as sy nie opdaag nie.

Ek het probeer om myne in daardie kategoriee in te deel, maar hulle is so ‘n unieke groepie kreature, dat ek na iets anders moes soek. Dit was eintlik heel voor die hand liggend: my vriendinne is wilder as die wildtuin!

Daar is my rooibok-vriendin. Sy is ‘n staatmaker, altyd op haar pos en elke dag dieselfde. Dit gaan altyd goed met haar en sy kan cope, maak nie saak wat nie. Sy is baie gewild en pas maklik in ‘n groep in. Jy sien haar oral, by die kerk, die skool, liefdadigheid, ens. Soms maak sy my bietjie siek, want ek is beslis nie ‘n rooibokkie nie!

Ek het een of twee pouvriendinne. Hulle loop rond, roep nou en dan daar die hoe roep en pronk wanneer dit hulle pas. Mense is soms afgunstig op hulle, maar mens kan nie help om van hulle te hou nie. Hulle is immers so pragtig, jy kan nie help om van hulle te hou nie. Voor jy jouself kan kry, doen jy nog vir hulle gunsies ook!

En wat van die apie-vriendin. Sy is altyd aan die gang, besig met ‘n 100 dinge gelyk. Sy praat aanmekaar en haar optimisme en vrolikheid, maak mens partykeer sommer lam in die knieknoppe. Maar dis so lekker om saam met haar te wees, want dis nooit vervelig nie. Daar is altyd iets aan die gebeur.

Ek het ook ‘n swaeltjie-vriendin. Sy kom net nou en dan terug huis toe, indien ooit. Sy het al die wereld gesien, woon in eksotiese plekke, praat ‘n klomp tale en pos af en toe die wonderlikste persente vir my verjaarsdag.

Ek is mal oor katte, daarom is dit nie snaaks dat ek ‘n paar kat-vriendinne het nie.

My een vriendin is definitief ‘n sivetkat. Sy beskou haarself nie as die koning van die diereryk nie, is effens skugter en le graag iewers op ‘n tak en bak in die son. Sy verwerdig haarself soms om op te staan en iets te doen, maar as jy nie moeite doen om gereeld met haar in kontak te bly nie, mis jy dit dalk heeltemal. Sy is lojaal, maar is nie ‘n tropdier nie. Daarom kom die vriendskap maar meesal van jou kant af.

My ander vriendin is die leeu. Sy loop voor en ander volg, want sy is mos van koninklike afkoms. Sy laat niemand haar vertel wat om te doen nie. Jy wil nie aan haar verkeerde kant kom nie, maar sy sal jou met hand en tand verdedig as dit nodig is. Vir haar is daar niks tussenin nie. Of sy le rustig op ‘n klip en waak oor haar gebied, of sy is op ‘n driftige jagtog!

Dan is daar die krimpvarkie. Sy is skaam en skaars. Jy is gelukkig as jy so ‘n vriendin opspoor. Sy is baie spesiaal, maar jy moet werk daarvoor. Selfs haar skerpkant is oulik!

Ons het elkeen ‘n **-vriendin. Mens moet soms jou woorde by haar tel, maar na ‘n kuiertjie saam met haar, is jy op datum met alles en almal. Jy kan lekker ontspan en net luister. Dis mos nie skinder nie, net die uitruil van inligting. As daar moeilikheid is, bel jy haar eerste en weet sommer gou alles. Maar moenie probeer om ‘n woord in te kry nie.

Nee, daarvoor besoek jy jou uil-vriendin. Sy kan doodstil sit en as dit moet, vir ure na jou luister tot jy al jou hartsgeheime, al jou seer, jou woede of jou bekommernisse uitgestort het. Gewoonlik gee sy dan goeie raad by alles. Haar groot oe kyk sommer regdeur jou en as jy haar in die supermark raakloop, weet sy dadelik as daar fout is. Haar moet jy mooi oppas. Sy is kosbaar. Onthou net om ook soms na haar te luister!

Dan is daar die olifant. Nie omdat sy so groot is nie, maar omdat sy die matriarg is. Sy loop voor waar ander te bang is, sonder ‘n groot fanfare. Sy sorg dat almal veilig is, breek die bos oop as die pad te moeilik word, kla nooit, dra die wereld op haar skouers en kan, as dit moet, jou met wapperende ore beskerm. Elke vrou kort so ‘n vriendin.

Dan is daar die hiena. Sy wil jy nie graag as vriendin he nie. Maar dis goed om te weet hoe sy lyk. Sy is vooraf vriendelik en onderdanig, veral as die leeu naby is, maar as daar moeilikheid is skarrel sy gou-gou weg en jy hoor haar tot lank daarna in die duisternis lag. En as jy swak of gewond is, val sy jou van agter aan en sy kan dodelik wees!

Haar maatjies is die wildehonde. Hulle jag altyd in groepe, giggel soos bakvissies en ruk sommer in die hardloop stukke vleis uit. Wees baie versigtig vir hulle!

Ek is nie altyd mooi seker wie ek is nie. Soms dink ek ons verander van kolle soos die situasie dit vra. Soms is ek die leeu, soms die uil, soms die apie, soms die sivet. En jy?

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button