BlogsOpinion

Te midde van: Paasfees

‘n Mens leef te veel kere vasgevang in jou eie kokon.

‘n Mens leef te veel kere vasgevang in jou eie kokon.

Ek het met ‘n skok weer agtergekom dat al hoe minder mense soos ek dink. (Toemaar, jy is nie ‘n freak nie net omdat jy hier lees nie!)

Paasfees is hier en ek het ‘n gevoel van bevryding oor my. Iets wat eintlik onverklaarbaar is op hierdie stadium.

Met al die stres van onbetaalde rekeninge, agterstallige skoolgelde, Januarie wat sommer in Maart in oorloop, eksamen-tieners, rooihakskeen-liefdesteleurstellings en ‘n al hoe groter wordende hoop in die ‘Ongedane sake’-mandjie, voel dit die afgelope tyd vir my of ek minder as gewoonlik my kop bo water kry. Ek onthou so half skuldig hoe ons as kinders altyd paasfees see toe gegaan het, of dan nou ‘n paar keer, met koue water, warm slaptjips en die klein Engelse kerkie tussen die groot hotelle. My kinders weet nie eens van ‘n paasvakansie nie.

Gister gesels ek met ‘n vriendin in Nieu Seeland oor ‘n paas-eiersoektog en sy se ‘n skokkende ding: “In hierdie land vol goddelose mense gaan paasfgees net oor eiers.” Ek het nogal gewonder hoekom staan daar duidelik op haar Gesigblad-info dat sy ‘n Christen is. Ek verstaan nou, dis omdat nie almal om haar is nie.

Net daar waar die ontnugtering my toe slaan. Ek het nogal gedink ‘down under’ is mos maar amper net soos hier by ons, baie plattelandse dorpies ent goeie gesinswaardes en kerkklokke wat Sondae lui. Maar as mens nou eerlik moet wees, pas daai prentjie ook in by paasvakansies in Durban, in die verre verlede. In ons eie land is daar baie mense wat glad nie meer kerk-gebonde is nie. My eie kind kom vertel my nou die dag dat haar vriende nie hoef kerk toe te gaan nie, want mens het nie ‘n kerk nodig om te glo nie. Dis alles waar, wat net weer bewys, al hoe minder mense dink soos ek.

En so tussen die chaos en die golwe in die stryd om kop bo water te hou, voel dit soms ook soos die maklikste uitweg: kyk net na jouself en joune en die duiwel haal die res.

Maar iewers in my, wil ek nie net oorgee en gaan le nie. Die weg van minste weerstand is ‘n gladde glybaan die duisternis in.

Al is ek nou deel van ‘n krimpende groepie mense wat glo, glo ek steeds. Dis net daar waar die verligting vandaan kom. Dink mooi daaraan: jou skulde is betaal, die rekening is afgesluit, die stryd is gewen en jou plek is bespreek! Al wat jy hoef te doen is om in dankbaarheid te leef. Wat ‘n verligting! Niks kan meer so erg wees soos wat dit voel nie.

Al spook en spartel ek steeds voort, hoef die desperaatheid my nie te oorval nie.

Paastyd is ‘n feestyd, ‘n tyd om ons verlossing te vier. Dis ‘n tyd om te vertel dat die dood, en in my geval, die ou duiwel, nie meer houvas oor ons het nie. Dis ‘n tyd om te deel met ‘n al hoe groter wordende groep, daar is hoop!

So geniet jou naweek van bevryding, steek paaseiers weg en laat die vreugde jou onverhoeds en dikwels oorval.

Geseende Paasfgees!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button