BlogsOpinion

Net ‘n bietjie water, groot asseblief

Die veld is droog, dor en stowwerig en dit is moeilik om die talle dongas in die pad mis te ry

MOKOPANE – Dit is bloedig warm en ons het vergeet om ‘n koue drinkdingetjie saam te piekel hier waar ek en joernalis, Jolandi Fourie, deur een van die talle nedersettings aan die buitewyke van die dorp ry.

Sien ‘n mens die dongas in die pad wat soos die kraters op die maan lyk, wonder jy skielik waaroor kla ons oor die gate in Mokopane se strate. So in die ry koes ons ook vir die donkies en boerbokke.

Dit is huistoe-gaan-tyd vir ‘n klomp laerskoolkinders wat aan die kant van die stofpad staan. Hulle gil, juig en waai en ons wuif soos koninklikes terug. ‘n Kilometer verder beleef ons steeds die opgewondenheid in die motor se truspieëls want dit is duidelik in die afgeleë plek sien hulle nie aldag ander gesigte nie.

In die verte styg bolle rook bo die berge voor ons uit. Dit is daar waar klippe en bosse die pad afsper, bande aan die brand gesteek is en talle mense hulle misnoë te kenne gee oor die swak dienslewering van die Mogalakwena Munisipaliteit.

Die water in die krane het al lankal opgedroog en so ook die mense se hoop vir ‘n beter uitkoms.

Die jaar 2016 het voorwaar met ‘n ‘bang’ afgeskop en ‘n mens sien soveel swaarkry om jou. Werk is skaars, salarisse hou nie tred met lewenskoste en die droogte bring onbekostigbare vleis- en groentepryse op ons winkelrakke nie. Skielik het die soeke na water wat ‘n basiese behoefte vir die mens se voortbestaan is, ‘n dringendheid en luukse geword in baie dele van ons land.

Die hemel se sluise gaan nie behoorlik oop nie en die instandhouding van waterpype en stelsels om die water in ons krane te laat loop word weens geldgebrek nie oral gedoen nie.

Hier in die 21ste eeu moet ons bottels water van een dorp na n ander aanry om die nood te probeer verlig. Ek slaan my oë op na die berge voor ons en kyk met verwondering na die Skepping.

Die mens hoe slim en vooruitstrewend met al sy wonderlike wetenskap en tegnologiese uitvindsels, kan binne ‘n japtrap onvergewerp word met iets so eenvoudig, maar tog so noodsaaklik soos water.

Ons is eintlik maar klein en nietig. ‘n Hoër hand is in beheer.

 

 

 

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button