BlogsOpinion

VAT VYF: Die vrou in die kis

Ek kyk af na die gelaat van die vrou in die kis. Dit is moeilik om te glo dat dit my ma is wat daar lê…

Ek kyk af na die gelaat van die vrou in die kis. Dit is moeilik om te glo dat dit my ma is wat daar lê…
Ek is geskok om te sien hoe maer sy geword het sedert ek haar ‘n maand gelede gesien het in die ouetehuis in Kaapstad. Haar lippe is opmekaar geklem in ‘n dun lyn. Die oë is geslote. Haar bleek voorkop voel koud en klam onder my handpalm.
Uiteindelik is die pyn en lyding van die afgelope paar maande op ‘n einde; die familie se heen en weer jaag hospitaal en ouetehuis toe; die voortdurende hoop vir beterskap net om te sien hoe sy onteenseglik agteruitgaan.
Ons staan almal in stille eerbied voor die mag van die dood rondom haar kis in die Maitland Krematorium.
Dit is nie ‘n lekker dag vir ‘n begrafnis nie….
Reën het plek-plek saggies begin neersif en die lug is grou en grys. So nou en dan kom die sonnetjie effens deur. ‘n Koel luggie trek deur die kapelletjie waar ons familie soos ‘n klomp natgereënde hoenders saambondel om afskeid te neem van ma.
Ek probeer onbeholpe om ‘n troosdiens preek te lewer van die ryp gerf wat op sy tyd ingebring word na die dorsvloer (Job 5:26). My stem klink onnatuurlik hard en hol oor die mikrofoon.
Dit weergalm terug na my vanuit die bykans leë kapelletjie. Ons is net 14 mense bymekaar saam met die paar ouetehuis inwoners wat kom tot siens sê het vir hulle gevalle ou kameraad.
Na die boodskap word die kis is op ‘n trollie van die krematorium geplaas vir verassing.
Terwyl ek die geloofsbelydenis aflees, sal die begrafnisondernemer ‘n knoppie druk en die oorskot sal stadig begin afsak in die vloer.
Wanneer dit by die onderste verdieping kom, sal portiere die kis verwyder en dit in die oond plaas vir verassing.
‘Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde en in Jesus Christus sy Eniggebore Seun, onse Here…’
Die kis gee ‘n ruk en begin sak.
‘Ek glo aan die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe…’
Ek wonder vir ‘n oomblik…glo ek alles wat ek hier lees?
Is daar werklik Iemand wat hierdie donker, groue werklikheid kan omkeer?
Uiteindelik is alles verby.
Na die seënbede stap ons uit die kapel vir tee en verversings.
Skielik is ons weer terug in die normale lewe.
Die gesprekke gaan oor alledaagse dinge, die klein goedjies wat ons lewens aanmekaar hou soos die weer; die kleinkinders se skoolaktiwiteite; die petrolprys wat om 12-uur gaan verlaag en ander ondermaanse onbenullighede.
Na ‘n paar laaste omhelsings is ons uitmekaar.
Toe ons wegtrek by die krematorium, neem ek ‘n verkeerde afdraaipaadjie en beland per abuis aan die agterkant van die gebou waar die oond is.
Rookdampe kom uit ‘n skoorsteen en daar is ‘n dowwe asreuk in die lug.
Vir ‘n oomblik is ek ontroerd maar dan onthou ek die woorde van Jesus; ‘Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe’.
Toe ons uitdraai in die hoofstraat skitter die reëndruppeltjies op die motor se vooruit soos goue pêrels in die lig van ‘n flou sonnetjie wat deur die wolke breek… (www.dsgielie.net)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button