BlogsOpinion

KATROLKOORS: Visse moet ook asemhaal

Wanneer dit kom by swartbaarhengel is daar verskeie faktore wat die hengelaar se sukses beïnvloed.

Wanneer dit kom by swartbaarhengel is daar verskeie faktore wat die hengelaar se sukses beïnvloed. Behalwe vir die kombinasie van hengelgerei is daar invloede binne en ook buite die water. Verlede week het ons na watertemperatuur gekyk en ‘n paar ander so vinnig genoem.

Nog ‘n belangrike interne faktor wat swartbaarhengel beïnvloed, dit wil sê ‘n faktor binne die water, is die water se suurstofinhoud.

Enige vis is afhanklik van suurstof en die water se suurstofinhoud word weer op sy beurt beïnvloed deur watertemperatuur, wind wat daaroor waai, beweging van water, waterdiepte en waterplante.

Hoe vlakker die water is, hoe vinniger gaan die water warmer word en minder suurstof dra. Maar nou is dit ook so dat vis koudbloedig is en enige vlak warm water verwelkom, veral in die winter. Hou net in gedagte dat vlak water nie dieselfde temperature bereik as wat dit in die somer sou doen nie.

Hoe warmer die water is, hoe minder suurstof is daar in die water. Vir die kompeterende hengelaars is dit veral in die somer ‘n probleem wanneer hulle visse lewendig ingeweeg moet word. Om hierdie probleem op te los in doelgerigte kom-partemente op die boot waarin die vis gehou word, word plastiekbottels vol gevriesde water gebruik om die watertemperatuur af te bring. Strome en versnellings help ook met suurstofinhoud. Indien jy ooit by enige onbekende dam opdaag en daar is ‘n stroom wat by die dam invloei sal dit beslis ‘n goeie plek wees om vis te soek. Die swartbaars gaan nie baie ver weg lê nie en wag vir enige stukkie kos wat die dam invloei. Hulle gaan met die kop stroomop, maar nie direk in die stroom lê nie om energie te spaar. Met ander woorde die aas moet saam met die stroom die dam invloei, óf ten minste skuins deur die stroom swem.

As daar nou een plek is waar ek altyd vir swartbaars soek is dit rondom groen watergras. Vir die meeste hengelaars is dit die laaste plek wat hulle sal oorweeg want hulle is te bang hulle gaan kunsaas verloor. Die gevolg is dat daar minder hengeldruk rondom watergras is. Nog ‘n goeie rede is dat watergras fotosinteer wat suurstof in die water sit. Die gras bied ook skuilplek aan klein vissies wat die swartbaars so graag vreet maar ook skuilplek aan die roofvis. In die winter gebruik visse watergras soos ons elektriese komberse gebruik – hulle gaan lê baie diep, doodstil binne in die gras en knip nie eens ‘n oog nie (hulle het nie ooglede nie).

Die beste aas om in en rondom watergras te gebruik is sagte plastiese wurms. Persoonlik sal ek ‘n stewige sewe voet stok en 17lb fluorocarbon lyn gebruik. Daar is drie stroppe wat oorweeg kan word naamlik ‘n Texas-, ‘n Mojo-strop of sommer gewigloos. Nou is die onmiddellike volgende vrae: hoe lyk die stroppe, watse knoop om te maak, watter grootte hoek, gewig van die sinker, watter tiepe wurm, kleur, grootte, en meer. Wel, hierdie kolom is nie lank genoeg om alles in een asem te verduidelik nie.

Wenk van die week:

Hengel oewers waarteen die wind vaswaai. Indien dit ‘n windstil dag is, fokus op strukture en skuilings.

Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

 

KATROLKOORS: die regte aas, maar hulle byt nie?

KATROLKKORS: Die regte kunsaas vir swartbaars

KATROLKOORS: Regte metode vir ‘catch and release’

KATROLKOORS: Hê respek vir jou visvangomgewing

KATROLKOORS: Die beste lyn om te gebruik vir swartbaars

KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars

KATROLKOORS: Swartbaarhengel regdeur die jaar

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button