BlogsOpinion

VAT VYF: Die gevreesde vingertoets

EK stap by die dokter se ontvangslokaal in. Soos altyd maar as ek vir my jaarlikse ondersoek by die uroloog gaan, is ek effens op my senuwees.

EK stap by die dokter se ontvangslokaal in. Soos altyd maar as ek vir my jaarlikse ondersoek by die uroloog gaan, is ek effens op my senuwees. Mens wonder altyd watter fout gaan hy dalk vind… Die ontvangsdames groet my vriendelik en beduie ek moet solank sit. Op die toonbank lê ‘n dik stapel lêers en ‘n koppie koffie waaruit nog niks gedrink is nie.

Die dokter kom ingestap, groet vriendelik, neem my lêer en beduie aan my om voor te loop na sy spreekkamer toe. Hy is netjies uitgevat met ‘n hemp, ‘n das en ‘n oortrektrui. Hy glimlag vir my en vir ‘n oomblik wonder ek of dit ‘n grynslag is omdat hy weet van die ‘vingertoets’ wat kom.

In sy spreekkamer gaan hy rustig deur my lêer. ‘Hoeveel keer staan jy op in die nag? Hoe sterk is jou stroom? Enige ongemak as jy urineer? vra hy terwyl hy aantekeninge maak. ‘Goed kom ons ondersoek jou gou,’ sê hy.

Ek gaan lê op die ondersoekbed en sy hande beweeg vinnig en professioneel oor my liggaam. Die sonar se koue ‘wielietjie’ kielie oor my maag. Vir ‘n oomblik voel dit vir jou of jy in ‘n stuk ‘vleis’ verander en hy in ‘n ‘vleisinspekteur’ wat jou moet ondersoek vir gebreke.

Maar ek weet dit is presies hoe dit moet wees as hy sy werk goed moet doen.

Hy kan nie jou enige verleentheid of slegte nuus spaar nie. Jou lewe hang van hierdie ondersoek af…

En dan is dit tyd vir die ‘gevreesde’ vingertoets. ‘Draai op jou sy en trek jou bene op’ sê hy terwyl hy ‘n dun steriele handskoen aan sy een hand aantrek. Dit is binne ‘n paar sekondes verby; feitlik gevoelloos. Jy weet nie hoekom party mans so bang is hiervoor nie. Seker ‘n kombinasie van onkunde en die brose manlike ego? ‘Trek maar aan,’ sê hy.

‘O ja net nog een ding’ sê terwyl hy vir my ‘n flessie aangee. ‘Gee vir ons ‘n urienemonster hierin om te toets.’ Verlig en dankbaar trek jy jou klere aan. Sover nog geen slegte nuus nie. Hy skud die uriene doopstokkie af en kyk daarna.

‘Alles lyk goed,’ sê hy. ‘Nou moet jy net nog laat bloed trek vir jou PSA (prostaatspesifiekeantigeen) toets.’

Die toets kan prostaatkanker bespeur lank voordat ‘n mens enige simptome het en het menige man se lewe al gered. Dit is absoluut noodsaaklik vir alle mans ouer as 40 om die toets jaarliks te ondergaan. Teen die tyd dat jy die kanker se pyn ervaar, is dit gewoonlik te laat.

Toe ek uitstap uit die spreekkamer sien ek sy koppie koffie staan nog steeds onaangeraak langs die pak lêers. Ek wonder of hy ooit vandag daarby gaan uitkom? Hy’t reeds met die volgende pasiënt in die spreekkamer verdwyn. Ek wonder ook hoeveel mans gaan nog onnodig sterf omdat hulle terugdeins om so ‘n eenvoudige en maklike prosedure soos die ‘vingertoets’ te ondergaan (www.dsgielie.net)

(Kansa het tot einde Augustus ‘n spesiale promosie waarin hulle PSA toetse doen by al die bekende patoloë vir slegs R100).

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button