KATROLKOORS: Hê respek vir jou visvangomgewing

Ons het begin deur te sê dat swartbaars dwarsdeur die jaar gevang kan word, maar as ons hengelgerei nie reg is nie, gaan elke hengeluitstappie 'n teleurstelling wees en gaan die leser belangstelling verloor.

Ons het begin deur te sê dat swartbaars dwarsdeur die jaar gevang kan word, maar as ons hengelgerei nie reg is nie, gaan elke hengeluitstappie ‘n teleurstelling wees en gaan die leser belangstelling verloor.

Ons het begin deur te kyk na die verskillende soorte visstokke, katrolle en vislyn waarvan elkeen unieke karaktereienskappe het. ‘n Kombinasie van die gerei stel die hengelaar in staat om met bepaalde kunsaas te hengel, sekere aanbiedings te maak en om die vis suksesvol uit te oorlê.

Daar is drie vrae wat hengelaars altyd vra naamlik, waar, wanneer en waarmee?

Grootbek-swartbaars hou van skoon, stadig-vloeiende water, maar verkies eerder stilstaande water wat baie skuilplek bied. Skuilplekke soos waterplante, rotse, bome en selfs mensgemaakte strukture soos brûe en ou paaie. Om op te som – al die plekke waar jy gaan vassit met jou kunsaas.

Omrede swartbaars roofvis is, sal hulle in die skuilings se skadu’s lê en wag vir ‘n niksvermoedende maaltyd wat verbykom.

Hulle vreet enige iets; vis, paddas, krappe, slange, insekte, voëls en selfs hulle eie kleintjies. Die grootte van die aas skrik hulle ook nie af nie. Ek het al swartbaars gevang en gewonder wat het die vis gedink gaan hy met die aas maak as hy hom eers gevang het?

Maar waar? Van die bekendste openbare damme in Limpopo waar swartbaars gevind kan word, is Ebenezer naby Haenertsburg, Fanie Botha buite Tzaneen en Nandoni, duskant Thohoyandou. Dan is daar verskeie plaasdamme wat ook mooi vis het, maar toegang tot die damme is ‘n wesenlike probleem, en met goeie rede. Dit het alles te doen met respek.

Op alle vlakke van die samelewing en onder alle volke is daar mense wat hulle wangedra en die geleenthede vir mede-hengelaars belemmer. Daar is ‘n gebrek aan basiese respek teenoor die natuur, jou medemens en sommer ook teenoor jouself!

Dit is ‘n voorreg om buite in die natuur te kan wees en nie ‘n grondwetlike reg nie. Dus is dit van kardinale belang om vooraf toestemming by ‘n grondeienaar te kry om sy perseel te betree om ‘n lyntjie nat te maak. Met die werklikheid van plaasaanvalle en hoë vlakke van misdaad kan mens nie sommer net gou-gou ‘n draai by iemand se dam gaan maak nie. Kry toestemming en laat die eienaar weet wanneer jy daar gaan opdaag en weer vertrek.

Indien jy so gelukkig is om wel toestemming te kry, word van jou verwag om die hengelarea netjies en skoon te laat; al is dit nie eens jou rommel nie. Die grootste ergernis is toiletpapier wat soos kersboomversierings die veld rondwaai! Vislyn wat langs die dam en in die water gelaat word raak verstrengel om watervoëls se pote en die arme diere vrek baie stadig van hongerte en dors.

Gewoonlik sit die voëls op plekke wat nie vir die mens bereikbaar is om hulle te red nie. Gebreekte bottels in en langs die water, asook leë blikke is ‘n groot nee-nee. G’n wonder grondeienaars is so taai om toestemming te verleen nie.

Ek het selfs al gehoor van gevalle waar “dagbesoekers” vir hulle ‘n “ietsie” saam huistoe gevat het. Die boer was glad nie beïndruk toe hy die man voorkeer met ‘n sak vol vis wat hy langs die pad wou gaan smous nie. Dit is steel! Ook mag jy nie “ietsie” skiet wat toevallig by jou verbystap nie, soos die stoetbul, ‘n wildsbok óf selfs ‘n bakkievrag vuurmaakhout oplaai nie. Dit klink absurd, maar daar is werklik sulke stropers tussen ons wat alles belemmer.

Hengel en hanteer alles om jou met respek!

Wenk van die week:

Indien jy gelukkig genoeg is om saam na ‘n privaatdam genooi te word, beteken dit nie die hekke is oop vir almal wat jy ken om enige tyd daar te kom hengel nie.

• Hannes Lindeque is die uitgewer van die spesialistydskrif, SA BASS, wat maandeliks verskyn en is self ‘n kranige swartbaarhengelaar.

KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars

Swartbaarhengel regdeur die jaar

SA Bass berig nou weeklikse bederf vir Lim hengelaars

Exit mobile version