KATROLKOORS: Leer meer oor die beste katrol vir swartbaars

Daar is drie groepe katrolle waarvan die lae profiel "bait caster" die mees gewildste en beste opsie is.

Verledeweek het ons na verskeie visstokke as gereedskapstukke gekyk en waarvoor die stokke gebruik kan word om swartbaars mee te vang. Met swartbaarhengel is die hengelaar heeldag besig om aas uit te gooi en terug te bring en moet die katrol baie “werk”.

Daar is drie groepe katrolle waarvan die lae profiel “bait caster” die mees gewildste en beste opsie is. Die voordeel van die katrol is dat dit is baie lig is, beskikbaar is in verskeie ratverhoudings en indien die katrol reg gestel is, gee dit min moeilikheid. Maar, wanneer hierdie masjien ‘n kraaines maak, dan is dit ordentlik en wil baie beginnerhengelaars die “gemors” stukkend gooi.

Die geheim lê daarin: Ryg die lyn deur al die stok se ogies, knoop jou gunsteling aas aan die punt van die lyn en katrol die aas op tot amper teen die punt.

Stel nou die draaiknoppie vas wat die spoel beheer en druk die duimhefboom in. Tel die stok se punt sowat 45º op en laat skiet die draaiknoppie stadig totdat die aas begin val. Draai die knoppie weer ‘n knertsie vas sodat die aas in die lug bly hang. (Die spoel is nogsteeds vry om lyn te voer, maar hardloop darem nie weg nie.) Gooi die aas uit; hou jou oog op die aas en druk die spoel dood sodra die aas momentum verloor. Herhaal hierdie verstelling met elke aas wat aangesit word totdat jy vertroud is met die katrol.

Die mees bekendste katrol is sekerlik die koffiemeule.

Dit is die katrol waarmee die meeste hengelaars begin hengel omrede dit redelik eenvoudig is om te bemeester. Die grootste voordeel van die koffiemeulkatrol is dat die hengelaar met ligte lyn en klein, ligte kunsaas kan hengel.

Die grootste nadeel egter is dat die vislyn van al die herhaaldelike gooi en inbring begin “opwen”, met die gevolg dat ‘n windknoop skielik kan vorm wanneer jy weer ingooi en jou hengel sodoende vieslik belemmer. Gewoonlik is die terugslag wanneer jy die perfekte gooi maak na die ideale teikenarea.

Die kraaines is so erg dat die lyn afgesny en die strop oorgemaak moet word. (Moet asb nie die lyn langs die dam weggooi nie. Druk dit in jou sak sodat die watervoëls se pote nie verstrengel kan raak nie).

Die laaste tipe word plaaslik nie baie gebruik nie en was vroeër jare bekend as ‘n “Zebco”. Dit lyk soos ‘n koffiemeulkatrol met ‘n koppie oor die spoel – ook genoem ‘n “closed face reel”. Dit is ‘n baie eenvoudige katrol wat maklik gebruik word, veral deur kinders, maar my grootste beswaar teen die katrol is die “pennetjie” wat die lyn kneus, veral met die inbring van ‘n groot vis. Verder moet daar deurentyd spanning op die lyn wees wanneer ingekatrol word, anders vang die “pennetjie” nie die lyn nie en gebeur daar niks.

In hierdie berig is daar ongelukkig nie genoeg spasie om katrolle in meer detail te kan bespreek nie. Aspekte soos remstelsels, ratverhoudings en aantal koëllaars is ook belangrik met die keuse van die regte katrol vir die regte “werk”.

Volgende week kyk ons na die tipes vislyn en waarvoor elk die beste gebruik kan word.

Wenk van die week:

Dit is uiters belangrik om die katrol se remstelsel voor die tyd reg te stel, want as die vis eers die aas gegryp het en die remstelsel is nie gestel nie, is die kans goed dat hy gaan wegkom.

Swartbaarhengel regdeur die jaar

SA Bass berig nou weeklikse bederf vir Lim hengelaars

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version