Hemelvaart: fees met ‘n lae profiel

HEMELVAART, as ons dit vergelyk met Kersfees en Paasfees, het ‘n uiters lae profiel. Ons weet nie regtig wat om met Jesus se hemelvaart te maak nie. Wat ons verder met hemelvaart laat worstel – of ons dit wil erken of nie – is die bonatuurlikheid hiervan. Wat het daardie dag op die Olyfberg gebeur? …

HEMELVAART, as ons dit vergelyk met Kersfees en Paasfees, het ‘n uiters lae profiel.
Ons weet nie regtig wat om met Jesus se hemelvaart te maak nie. Wat ons verder met hemelvaart laat worstel – of ons dit wil erken of nie – is die bonatuurlikheid hiervan. Wat het daardie dag op die Olyfberg gebeur? Waar is Jesus nou? Kan ons, in 2015 dit nog alles glo?
“As ons God net ken as die God wat die moontlike kan doen,” skrywe Walter Breugemann, “dan ken ons Hom nog glad nie”.
Het ons nie in hierdie moderne tyd met ons geweldige en oordrewe klem op die rede God van sy misterie, almag en onbeskryflikheid beroof nie? Daarom breek ek nie my kop oor die hemelvaart nie. Ek glo dit. Sien is glo, sê mense, maar is glo nie dalk sien nie.
Jesus se hemelvaart beteken nie dat Hy ons verlaat het nie. Hemelvaart is nie die ‘verlies’ van Jesus nie, want 10 dae na sy hemelvaart kom Hy deur die Gees terug in ons midde. Is dit nie wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het: “Nog ‘n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer ‘n klein rukkie, dan sal julle My weer sien” (Joh. 16:16). Is Hy nie nou deur sy Gees by en in ons teenwoordig nie?
In Bethlehem steek God die grens tussen Hom en ons oor. Na Jesus se hemelvaart, met die uitstorting van sy Gees, word hierdie grens weer oorgesteek. Vantevore, toe Jesus op aarde was, was Hy na aan ‘n paar mense, ‘n klein groepie dissipels en ‘n paar vroue. Sy teenwoordigheid was beperk deur ruimte en tyd. Vandag is Hy deur sy Gees in die ganse kosmos teenwoordig. Deur sy Gees en deur ons, sy liggaam, kom Hy in ons hospitale en hospitiums, kom Hy op ons sportvelde, in ons regerings, beheerliggame, besighede en stadsrade.
Daar is ook ’n ander manier om na die hemelvaart te kyk. Met sy hemelvaart, sê Julian Muller, het Jesus in die wolk verdwyn, maar aan die anderkant uitgekom as die arme, die werklose en die hawelose. Is dit vir jou ’n vreemde gedagte? Sê Jesus nie self in Matteus 25: “Vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” Jesus leef ook in die geringstes van die geringes.
Maarten Luther het gesê: “My eerste bekering was uit die wêreld na God toe. My tweede bekering was terug na die wêreld toe.” Na die wêreld toe? Hoekom? Dit is waar jy Jesus sal kry! Hy is sover as die een in die kantoor langs jou, sover soos die een wat langs jou sit! Philip Yancey skrywe in sy boek The Jesus I never knew: “Like the disciples, I never know where Jesus might turn up, how He might speak to me, what He might ask of me.” Laat mens dink, nê!

Exit mobile version