Wat wil jy regtig hê?

Tydskrifte, advertensies, koerante, programme op radio en televisie basuin in baie gevalle sukses uit as selfvoorsiening en onafhanklikheid. Die onafhanklikheid, selfvoorsiening, skep van eie sukses en die kry van wat ek in die lewe wil hê is vir baie die roete na sukses, beheer en mag. Die individu deur geslagte heen het steeds die een …

Tydskrifte, advertensies, koerante, programme op radio en televisie basuin in baie gevalle sukses uit as selfvoorsiening en onafhanklikheid. Die onafhanklikheid, selfvoorsiening, skep van eie sukses en die kry van wat ek in die lewe wil hê is vir baie die roete na sukses, beheer en mag. Die individu deur geslagte heen het steeds die een krisis – ” Ons wil hê wat ons wil hê wanneer ons dit wil hê, maar wanneer ons dit kry wil ons dit nie meer langer hê nie.”

Die vraag bly maal – “Wat wil jy regtig hê?”

Die Woord en biografie rakende individue getuig soos uitroeptekens dat elkeen wat regverdig is sal vir baie lank onthou word. Hulle lewens was geseën vir ewig omdat elkeen ‘n duidelike keuse teen die sisteem van die wêreld gemaak het en gesoek het na God se koninkryk en vertrou het dat alles en meer bygevoeg sal word.

Politici gee die een moontlikheid na die ander aan die massas om te oorleef, beter te leef en vooruitgang te beleef. Die raad is beperkend en fokus nie op die massa mense nie maar op die oorlewing van die politikus en sy/haar oorlewing in die keuse wat gemaak is.

Elke toespraak is gevul met heuning woorde om te beïndruk terwyl daar nie naby die woorde self geleef word nie. Mense word deur woorde emosioneel opgesweep om vir kort oomblikke mag te beleef totdat die vraag hart begin beier – “Wat wil ek regtig hê?”

Werklike genesing vir ‘n land na 21 jaar van demokrasie, geluk na stukkende verhoudinge en selfrespek na jare se afkraak lê te vinde in my bereidwilligheid om beskikbaar te wees vir God en Sy wil. Daar is geen sin om van God te probeer weghardloop, Hom te probeer wegredeneer of mis te kyk met verskoning wat van my lippe val nie. God wil steeds die individu, die woongebied waarin hy/sy leef, die land en gemeenskap optel, vertroos, toevou in genade en dra vanuit die waardesisteme van hierdie wêreld in Sy waarheid in.

“Wat wil jy hê?” die antwoord is onlosmaaklik verbind met die keuse om weg te stap van dit wat my beperk om God te leer ken. Verskonings, die skuld pak op ander wat nie daar is om hulleself te verdedig nie en die vashou aan die onreg van die verlede is alles redes wat mense blind maak vir God en genesing.

“Wat wil jy regtig hê?” Die antwoord op die vraag is vir elke individue om eerlik stil te staan en te besef elke moment van my eie lewe is nie gekoppel aan die verlede se seer en onreg nie. Ek gaan nie meer gedryf word deur die bitterheid wat in ons as gemeenskap ‘n tuiste gevind het nie. Ons word uitgedaag om ons trots in ons sak te steek en te vra wat wil U hê moet ek ontvang. Die antwoord op die vraag is gekoppel aan die sekerheid dat ek Sy Woord nie net lees nie, soms daaroor dink nie, maar dit leef as geroepene om ‘n verskil te wees.

Exit mobile version