BlogsOpinion

PIENKVOETJIES: ‘Dis so maklik om haar lief te hê.’

Almal weet dat 'n meisiekind van dag een af die lig in haar pa se oë is, en so is Amoré Lategan (drie maande) ook die lig in haar pa, Ian, se oë.

POLOKWANE – Almal weet dat ‘n meisiekind van dag een af die lig in haar pa se oë is, en so is Amoré Lategan (drie maande) ook die lig in haar pa, Ian, se oë.

“Sy is nou wel nie my eerste kind nie, maar sy is my eerste meisiekind,” vertel Ian trots waar ons in sy kantoor sit en gesels.

Sy vrou, Jolene, is ook daar en hulle oudste seuntjie, Dhian, hardloop om ons rond. Kort-kort kry sy babasussie ‘n soentjie van hom af.

Jolene vertel dat Amoré 3,3kg geweeg het by geboorte en 45cm lank was.

“Dit was ‘n redelike maklike swangerskap. Sy het net my nierpype toegelê en ek was af en toe in die hospitaal. Sy is deur middel van ‘n keisersnit gebore. Ek was onder spinale verdowing en was dus wakker tydens haar geboorte. Dit was ‘n wonderlike ervaring,” sê Jolene.

Laggend vertel Jolene dat sy skaars ‘n paar weke swanger was en self nog nie geweet het nie, toe haar pa vir haar sê sy is swanger.

“Ek het vir hom gelag, maar tog die toets gaan doen. Amoré was nie beplan nie, maar is ook nie onbeplan nie.”

Jolene vertel sy en Ian het ‘n ruk lank geredekawel oor Amoré se naam.

“Ek het gehou van Marluné, maar toe sê Ian nee die mense gaan sukkel om haar naam te skryf. Ook het ek gehou van Rianka en Romé. Op die ou einde het ons besluit op Amoré.”

Volgens Jolene is moederskap wonderlik en sy sê sy kan nie dink dat iemand nie kinders wil hê nie. Ian, vertel sy, help haar baie en hulle is gelukkig dat Amoré reeds deur die nag slaap.

“Ek droom nog altyd dat my dogter ‘n superatleet sal wees wat medaljes wen. Ek dink dis omdat ek so graag ‘n goeie atleet wou wees, maar nie kon nie,” vertel Jolene.

Ian wil net hê Amoré moet eendag hard leer.

Beide ouers vertel dat die maklikste deel van ouerskap is om liefde te gee en die moeilikste is om straf uit te deel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button