BlogsOpinion

Nommer asseblief? Lief en leed gedeel op die partylyne van sommige plattelandse sentrales

Bosveldpraatjies - Corinus du Toit

TOT redelik onlangs nog was partylyne (vir telefone) redelik algemeen in sekere dele van die platteland. Voor die koms van outomatiese sentrales was daar personeel in elke telefoonsentrale in die land om oproepe deur te skakel. Hulle was die hartklop van die gemeenskap en het van almal se soet en suur geweet. As jy na Oom Pietie gesoek het, was hulle vinnig om jou in te lig dat die oom nou by Basjan Petoors aan’t kuier is en jou sommer daarheen deurgeskakel.

Ek het al baie gehoor van die gesegde van ‘n paraffientelefoon en het altyd gedink dat dit maar net ‘n volksgesegde was om aan te toon dat die diens besonder stadig is. Dit was tot ek so ‘n klompie jaar gelede by ‘n boer anderkant Reivilo oornag het.

Daar hoor ek toe dat daar werklik iets soos paraffientelefone is.

Hulle telefoonstelsel word deur ‘n subsentrale bedien. Die sentrale word deur batterykrag aangedryf. Die basis van die stelsel is skynbaar ‘n paraffienvlam wat die batterye se krag laat laai. Tydens swaar weer veral, word die vlam soms doodgewaai. Die eerste persoon wat daarna agterkom dat die telefoon nie meer so lekker werk nie, klim bloot in sy bakkie, ry na die sentrale toe en steek weer die vlam aan.

Moet dus nooit ‘n volksgesegde vlak kyk nie – dit kan miskien net op die waarheid gegrond wees.

Om terug te kom na plaaslyne. Elke nommer het ‘n ander lui-kode gehad en dit was ‘n hele ritueel om ‘n oproep te maak. Eers tel jy die gehoorstuk op en vra “besig?”. As daar geen antwoord was nie, draai jy die telefoon se slinger ‘n paar keer en wag vir die sentrale om te antwoord. Gewoonlik was dit bloot “Sentrale!” Telkom het egter tred gehou met die tyd, want anderdag skakel ek Swartruggens en die sentrale antwoord flink met hul dorpie se naam, maar hulle weet steeds dat Oom Pietie by Basjan Petoors kuier! Die sentrale het jou dan deurgeskakel en soms moes jy vir ‘n ver oproep ‘n paar uur wag.

Tydens die gesprek is jy selfs ‘n paar keer onderbreek deur ander partylyners se: “Besig?”. Na die gesprek het jy die slinger flink twee keer gedraai om te wys dat jy nou klaar was.

Mense was so gewoond aan hul eie lui-kode, dat hulle in die middel van die nag daarvan sou wakker word, maar nie vir enige ander kode sou roer nie. Nou, 38 jaar later, gebruik my vrou en ek hulle plaaslyn kodelui op die motortoeter as ons mekaar iewers moet kry.

Om op ander mense se gesprekke in te luister, was natuurlik algemene tydverdryf. Iewers in die Bosveld was daar een so ‘n tante wat permanent ‘n stoel langs die telefoon gehad het. Daar was net een probleem. Tant Gesie, ‘n weduwee, het ‘n trop ganse gehad en was nie daarvan bewus dat die klomp se aanhoudende gesnater duidelik oor die telefoon hoorbaar was nie.

Almal op die partylyn het dus geweet as sy inluister Twee boere was later keelvol vir hierdie inbreuk op hul privaatheid en het ‘n plan afgespreek.

Die volgende keer toe hulle weer die ganse op die agtergrond hoor, begin die een te skinder van die wewenaar se kar wat dan nou so knaend saans voor Tant Gesie se huis geparkeer staan. So word die tante se reputasie aan flarde geskinder, en die dominee sal ingelig moet word, want die laaste keer het die motor eers vyfuur die oggend vertrek. Met stygende ontsteltenis het die ou tante die aanval op haar vlekkelose karakter aangehoor, maar vlees en bloed kon net soveel verduur.

“Dit lieg jy” het sy verontwaardig oor die telefoon gebulder en die gehoorstuk neergeplak.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button