Wanneer kinders begin om op te staan vir hul regte

DEUR DIE ROOSKLEURIGE BRIL: Marki Franken

DEUR DIE ROOSKLEURIGE BRIL:

Kinders moet gesien maar nie gehoor word nie. Hierdie gesegde lê al so lank gemaklik in die volksmond, dat ons dit as vanselfsprekend aanvaar. Maar is dit vanselfsprekend dat kinders hul plek moet ken?

Die gesegde waarvan ons praat is inderwaarheid vir die eer-ste keer in 1450 deur ‘n Britse predikant verkondig. Eerw. John Festial het geglo kinders kon onder geen omstandighede hul eie menings vorm nie en moes ten alle koste met hul ouers saamstem – reg of verkeerd.

Vandag, amper 600 jaar later, is dit dalk tyd om hierdie siening van kinders weer te bekyk.

Kinders het eintlik van die vroegste eeue af belangrike rolle in die geskiedenis van die wêreld vertolk. Dit lyk asof party van vandag se volwassenes gerieflikheidshalwe van hierdie kinders vergeet het. Mens hoor dikwels hoe iemand kla oor “kinders wat nie hulle plek ken nie”.

Vir dié wat die Bybel so graag nadertrek om te wys hoe kinders hul plek moet ken, is daar in dieselfde Bybel ‘n paar lesse te leer.

Die Bybel is vol stories van jong kinders wat ‘n verskil gemaak het. Moses se suster het sy lewe gered toe hy nog ‘n baba was en sodoende, op die lange duur, die volk van Israel ook.

Nadat die Egiptiese prinses Moses in die rivier gevind het omdat sy ma hom in die riete weggesteek het vir die koning se soldate, het sy gesê het dat sy iemand ken wat die baba kan help grootmaak.

Só het Moses tot op sewe jaar by sy eie ma gewoon danksy ‘n dogtertjie wat vinnig kon dink.

Die profeet Samuel was nog ‘n klein seuntjie toe God die eerste keer met hom gepraat het en Dawid was nog ‘n tiener toe hy Goliat verslaan het. As mens so na hierdie stories kyk, is dit duidelik dat wanneer kinders nie bang is om hul stemme te laat hoor nie, wonderlike dinge kan gebeur.

Vandag kan ons na die storie van Malala Yousafzai kyk om te sien hoe een jong kind se onverskrokkenheid die wêreld heeltemal kan verander. Malala het in Pakistan, waar sekere godsdienstige leiers glo meisies mag nie skool toe gaan of enigsins leer lees of skryf nie, gewoon. Die Taliban, wat baie aktief is in hierdie land, glo nog baie sterk daaraan dat kinders gesien maar nie gehoor moet word nie en meisies moet eerder by die huis bly, kos kook en die huis skoonmaak.

Malala was net 11 jaar oud toe sy begin het om teen die Taliban op te staan. Sy het geglo enige kind het die reg om skool toe te gaan en het geweier om toe te laat dat grootmense in haar pad staan. Sy het weekliks ‘n blog geskryf waarin sy vir die regte van meisies opgestaan het.

Toe Malala 14 jaar oud was, het ‘n Taliban-vegter op haar skoolbus geklim en haar deur die kop geskiet.

Sy het oorleef en, in plaas daarvan om terug te staan en stil te bly, aanhou veg vir meisies se reg om skool toe te gaan.

Sy moes na Engeland vlug vir haar eie en haar familie se veiligheid, maar sy het nooit een tree teruggestaan in haar geloof dat alle kinders die reg het op ‘n opvoeding nie.

Verlede jaar het Malala die Nobel Prys vir Vrede gewen – die jongste mens in die geskiedenis wat dit nog ooit gewen het.

In ‘n onderhoud met Forbes Magazine op 12 Januarie verlede jaar, het Malala verduidelik waarom sy nie ophou baklei het vir onderwys nie.

“Ek het twee opsies gehad. Die eerste was om stil te bly en dalk doodgemaak te word. Die tweede was om op te staan vir my regte en dalk doodgemaak te word. Ek het die tweede opsie gekies.”

Moet kinders respek hê vir hul ouers en volwassenes? Belis.

Moet kinders gesien en nie gehoor word nie? Beslis nie.

Kinders kan die wêreld verander indien hulle opstaan vir wat reg is en nie bang is om volwassenes se vooropgestelde idees aan te durf nie.

Exit mobile version