BlogsOpinion

VAT VYF: Die drome van ‘n raakvatter in Mosselbaai

VAT VYF: Ds. Gielie Joubert

“Ek het nie Facebook, WhatsApp of selfs ‘n selfoon nie, oom,” sê die man langs my op die bus.

Ek gaap hom verbaas aan. Dit is warm, vervelig, beknop en die lugversorger van die bus werk nie. Ek het aan die gesels geraak met een van die passa-siers, ‘n op-en-wakker jong man.

“Wat doen jy vir ‘n lewe,” vra ek hom.

“Ek is ‘n kelner by ‘n restaurant op Mosselbaai,” sê hy trots.

Ek dog hy is maar net een van die vele vakansiewerkers wat op Mosselbaai sy fortuin en avontuur soek.

Nee glad nie, hy bly op Mosselbaai en is al nege jaar lank ‘n kelner. Hy was ook al by tye bestuurder by ander restaurante en het al die nodige kursusse daarvoor voltooi.

“My ma het al verskeie kere gesê ek moet vir my ‘n ‘regte’ werk kry. Maar hierdie is my werk. Ek geniet elke oomblik daarvan. Dit is my passie. Ek is wel vir lang ure op my voete maar ek geniet dit om tussen die mense te wees. Die geld is goed.”

“Kan kliënte soms moeilik wees,” vra ek.

“Ja hulle kan. Eendag was daar ‘n ou oom wat die hele dag gesit en Klipdrift brandewyn gedrink het. Nadat hy al goed gekoring was, het hy my op ‘n stadium nader geroep en gesê, ‘ek ken brandewyn en hierdie is nie Klipdrift nie’.

“Hy het begin om ‘n spektakel te maak voor die ander kliënte en my uitgetrap vir swak diens. Ek het hom kalmeer, sy glas geneem en daarmee verdwyn om die hoek. Na ‘n ruk het ek teruggekom met dieselfde glas brandewyn.

“Die oubaas het dit geproe en gesê, ‘aaah, dis mos nou Klipdrift die’.”

Dan vertel hy vir my hoe alles werk in die kombuis en op die vloer. Daar is die braai-afdeling, die slaaie, die vis en skyfie-afdeling, koeldrankafdeling en kroeg.

Elkeen weet presies wat hy moet doen.

Die braaiers, glo hy, werk die hardste. Dit is warm en jy moet jou storie ken om elkeen se biefstuk presies reg gaar te maak.

Vir die eerste keer verstaan ek werklik wat die terme “medium”, “medium-halfrou”, “medium-gaar” en “goed gaar” beteken.

Kry hy darem kans om met so ‘n skedule in die kerk te kom?

“Ek sorg dat ek my skofte so uitruil dat ek elke Sondag af is. Ek gaan gereeld kerk toe en het selfs al in ‘n kerkorkes ook gespeel.”

En dit is ook nie asof hy in ‘n afgeslote klein wêreldtjie leef nie.

Nee, hy was al verskeie kere oorsee om te werk en te toer, maar sy eerste liefde bly Suid-Afrika en in Suid-Afrika is die beste plek vir hom Mosselbaai.

“Wat is jou drome?” vra ek.

“Oom ek wil eendag my eie stukkie grond hê en my eie ding doen in die natuur met kos en so aan,” verduidelik hy.

Toe ons Mosselbaai inry skud ons blad en stel ek myself voor. Hy gee my ‘n ferm handdruk en sê, “my naam is Ronnie Tupper en oom moet gerus vir my kom hallo sê by die restaurant.”

Nadat hy verduidelik hoe hulle winskope werk, het ons afgespreek om mekaar weer te ontmoet. Toe ons finaal groet na ons van die bus afklim het, sê hy, “oom, het julle kerk nie dalk ‘n orkes nie?”

www.dsgielie.net

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button