Hoe om die introverte in jou lewe beter te verstaan

Om 'n introvert te wees in vandag se lewe van networking en "dis nie wie jy is nie, dis wie jy ken", is nie maklik nie.

Amanda Strydom sing: “Ek het lankal immigreer na ‘n kamer in my kop. Vandaar hou ek versigtig die wêreld om my dop. My kamer bied ‘n skuilte as die storms buite woed. My kamer ken geheime, my kamer ken my goed; beskut my teen ‘n wêreld waar ek ongemaklik leef, bevry my van bagasie en laat my rustig wees. Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan. Ek reis al meer na binne tot dit tyd word om te gaan”.

Met hierdie woorde beskryf sy die lewe van ‘n introvert met poëtiese presissie.

Om ‘n introvert te wees in vandag se lewe van networking en “dis nie wie jy is nie, dis wie jy ken”, is nie maklik nie.

Die verskil tussen ‘n introvert en ‘n ekstrovert lê in die manier waarop mens energie opgaar en verbruik.

Ekstroverte kry hulle lewensenergie van ander mense.

Hoe meer mense om hulle is, hoe meer lewenslustig voel hulle.

Vir ‘n ekstrovert is netwerkvergaderings en sosiale byeenkomste soos manna en hulle klim dus die suksesleer in vandag se lewe baie makliker.

Ekstroverte se energie word getap wanneer hulle alleen is; wanneer daar niemand is om hulle “batterye” te laai nie.

Introverte se energiebron lê binne hulself.

Hulle het stil tyd alleen nodig om hul “batterye” te laai.

Vir introverte is ‘n groot groep mense ‘n nagmerrie, want ander mense tap introverte se energie. Maar plaas ‘n introvert in ‘n kleiner groep wat uit goeie vriende bestaan, en hy is dan in sy element, want hier is hy saam met mense wat nie enige aanspraak maak op sy energievlakke nie.

‘n Introvert is dus nie noodwendig ‘n skaam of teruggetrokke mens nie, hulle is bloot mense wat hul eie geselskap verkies bo dié van ander mense.

Hoeveel briljante introverte kry nie daardie bevorderings of werksaanbiedinge nie, net omdat hulle nie die korporatiewe spel so goed soos die ekstroverte kan speel nie?

Exit mobile version