OMGEKLITS: Waar gaan al die vernietiging eindig?

Die wêreld se wildpopulasie het die afgelope 40 jaar gehalveer volgens 'n verslag van die Lewende Planeet Indeks van die Londen Soölogiese Gemeenskap.

Die wêreld se wildpopulasie het die afgelope 40 jaar gehalveer volgens ‘n verslag van die Lewende Planeet Indeks van die Londen Soölogiese Gemeenskap.

Die populasie van soogdiere, voëls, reptiele, amfibieë en visse het met 52% gedaal, terwyl sekere varswater visspesies met tot 76% gedaal het.

Dit beteken eenvoudig die mens saag meer bome af as wat kan groei om dit te vervang, ons vang meer vis as wat kan voortplant, gebruik meer water as wat vervang kan word met reënwater en stel meer koolstof vry as wat opgeneem kan word deur oseane en die reënwoude.

In Ghana het die leeupopulasie oor die laaste 40 jaar met sowat 90% gedaal en die ontbossing van woude in Wes-Afrika het olifante se habitat verminder tot 6% van die oorspronklike.

Die Lewende Planeet Indeks meet die getalle van 10 000 gewerwelde spesies sedert 1970.

Dit wys baie duidelik dat die mens nie die aarde op ‘n volhoubare wyse gebruik nie.

Wildlewe word verdryf deur menslike aktiwiteite en grond gaan verlore omdat die mens al hoe meer van diere se habitat oorneem.

Die Europese Unie het ‘n verbod op die gebruik van sekere insekdoders geplaas omdat die byebevolking van die wêreld met rasse skrede verminder het. Die bydrae van bye tot die bestuiwing van landbougewasse word gereken op sowat 22 biljoen Euro.

In Kalifornië in die VSA het amandelboere 1,6 miloen byekolonies nodig om amandelbome, wat die staat se grootste landbou-uitvoerproduk is, te bestuif. Hulle sukkel, want byeboere se jaarlikse verlies aan bye is deesdae tot 30% hoër as normaal.

Onlangs het ‘n byeswerm onder ons dak ingetrek. Ten spyte van die feit dat ‘n kwaai trekswerm ‘n paar jaar gelede goed onder ons en ons diere ingeklim en tot die dood van een van ons honde gelei het, kon ek dit nie oor my hart kry om die swerm te laat uitwis deur ‘n maatskappy wat plae beheer nie.

Volgens ‘n byeboer was die swerm te klein en hy het nie spaar korwe gehad nie.’n Ander byevanger wou R1 000 hê om die swerm te verwyder.

Hopelik trek die bye self eendag verder. Intussen sal ek hulle uitlos en hoop hulle los my ook uit.

Exit mobile version