BlogsOpinion

‘n Karmenaadjie sonder ‘n emaljeskotteltjie

Wie ken nog die woord “karmenaadjie”? Dit was vroëer jare net so bekend soos haksel, sult en kaiings. Algar het egter in onbruik verval. Moeilik soos dit is om te glo, was daar ‘n era waar ys- en vrieskaste nie bestaan het nie. Hoe nou gemaak as daar geslag moes word? ‘n Bees of vark …

Wie ken nog die woord “karmenaadjie”? Dit was vroëer jare net so bekend soos haksel, sult en kaiings. Algar het egter in onbruik verval.

Moeilik soos dit is om te glo, was daar ‘n era waar ys- en vrieskaste nie bestaan het nie. Hoe nou gemaak as daar geslag moes word?

‘n Bees of vark was te groot vir ‘n gesin om alleen op te eet voordat dit sou bederf. Jy kan in elk geval net soveel biltong en droëwors maak of vleis rook en pekel. Daar bly nog ‘n allemintige hoop vars vleis daarna oor.

Dus was die goeie boeregebruik om ‘n karmenaadjie na jou bure toe stuur.

Van die vleis word dus sorgvuldig uitgekies, in ‘n erdeskottel of wit enamelskottel gesit, met ‘n skoon doekie bedek en saam met een van die kinders na die bure toe gestuur. Wanneer hulle op hul beurt weer geslag het, is die gebruik herhaal. So was daar feitlik voortdurend vars vleis tussen die plase in omloop.

In dieselfde era was daar die gebruik van ‘n krismisvark wat vetgemaak en net voor Kersfees geslag is.

Hoe vetter daardie vark, hoe beter. Die ideaal was dat die vark omstreeks Oktober reeds so vet moes wees dat die arme ding nie meer kon opstaan nie. Van daardie tyd af is hy dan behoorlik volgestop met alles wat ‘n vark se hart maar kon begeer.

Elke boervrou het haar eie geheim gehad om die vleis van die sittende (of lêende) vark so in die voer te geur.

Sommige het allerhande kruie en speserye by sy kos gevoeg.

Ander het weer aan ‘n paar eetlepels brandewyn per dag geglo terwyl die fynproewers gereken het dat niks by die sagtheid van vleis van ‘n slagvark kan kom wat so nou en dan ‘n skeutseltjie boegoe witblits deur sy gestel gehad het nie.

My ouma Let het dit wyslik nooit beproef nie. Omdat boegoe witblits in haar huis met sy dertien kinders ‘n ereplek in die medisynekas gehad het, dink ek almal sou rebelleer het teen varkvleis wat na boegoe smaak.

Ek kan my indink wat die tannies van die Hartstigting oor al daardie vet te sê sou kon hê, maar gelukkig het niemand toe nog geweet van goed soos cholesterol en verstopte are en hartaanvalle nie.

Kaiings is uitgebraai en by die handevol verorber, tuisgebakte bruin brood (nog warm uit die oond) met ‘n dik laag varkvet opgesmeer, was kos vir ‘n koning.

So gebeur dit een jaar dat Oupa Jan se vark sommer hier van middel September af al so vet is dat hy nie meer op sy pote kan kom nie. Hy sit op sy boude so ‘n ent van die agterdeur af en “og og” elke keer as hy iemand by daardie deur sien uitkom, want meermale is daar ‘n nuwe eetdingetjie vir hom in aantog.

Hy is duidelik in die hoogste varkehemel van geluk denkbaar – ‘n hele gesin wat daarop ingestel is om hom vol te stop.

Op warm dae word hy natgegooi of ‘n koeltetjie oor hom gespan, want met sy duimedik speklae is daar altyd die kans van hittevrekte.

Teen middel Desember, toe Oupa Jan besluit dis nou tyd vir slag, is daardie vark massief groot.

Elke wang is omtrent so groot soos ‘n man se boud en jy kan net-net sy ogies tussen die speklae sien.

Die groot driepoot ysterpot word vol water staangemaak en ‘n ordentlike vuur onder hom gestook.

Langsaan lê ‘n hoop streep-sakke wat tydens die slagtery in die kokende water gedoop en dan oor die karkas uitgesprei gaan word sodat die varkhare sag kan word vir maklike afkrap.

Oupa Jan neem die .22 geweer en mik vir ‘n breinskoot.

Op die oomblik toe hy die sneller trek, draai die vark egter se kop en die koëeltjie trek ‘n bloedstreep langs sy wang af.

En daar vlieg daardie vark, wat van middel September af nie meer kon opstaan nie, op en kies koers met die pad af. Toe Oupa Jan tot verhaal kom, is hy al oor die bult en buite sig. Hulle kry hom ses plase verder eers opgespoor, skoon maer gehardloop.

Vir seker moes dit ‘n baie taai varkboud gewees het wat daardie jaar die Krismistafel versier het.

Die Sondag keer die boer op wie se plaas die vark geëindig het, Oupa Jan by die kerk voor.

“Jan, baie dankie vir die karmenaadjie wat jy anderdag gestuur het.

“Sê bietjie vir Let ek weet nie wat van haar enamel skotteltjie en doekie geword het nie, maar toe die karmenaadjie daar op die werf kom neerplons, het hy dit nie by hom gehad nie. Moes dit seker iewers langs die pad verloor het!”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button