VAT VYF: Barry, Gerrie en Oscar se lewenslesse

Ons onthou nog almal die Oscar Pretorius-hofsaak met advokate Barry Roux en Gerrie Nel. Dit was 'n eindelose ondervraging; die stel van argumente en teen argumente

“Waar was jy toe jy die sneller getrek het? Het jy jou prostese aangehad toe jy badkamer toe geloop het? Was die balkon skuifdeur toe of oop?”

Ons onthou nog almal die Oscar Pretorius-hofsaak met advokate Barry Roux en Gerrie Nel. Dit was ‘n eindelose ondervraging; die stel van argumente en teen argumente. Die doel van alles was om agter die waarheid te kom.

‘n Soortgelyke “hofsaak” vind plaas in Johannes 9: ‘n Man wat blind gebore is, word deur Jesus genees. Die Fariseërs was baie ontsteld daaroor dat Hy dit op die Sabbat gedoen het.

Hulle neem die man wat genees is onder kruisverhoor:

“Hoe is jou oë geopen?”

Antwoord: “Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak, op my oë gesmeer en vir my gesê, gaan na die badwater van Siloam en was jou. Ek het gegaan en my gewas en ek sien.”

“Hoe kan ‘n sondige mens sulke tekens doen? Jy, wat sê jy van Hom aangesien Hy jou oë geopen het?”

Antwoord: “Hy is ‘n profeet.”

Hulle roep die ouers van hom wat siende geword het en vra vir hulle.

“Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is en hoe sien hy nou?”

Antwoord : “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is maar hoe hy nou sien en wie sy oë geopen het weet ons nie. Hy is self oud genoeg. Vra hom. Hy sal vir homself praat.”

“Ons weet hierdie man is ‘n sondaar. Hoe is jy genees?”

“Of hy ‘n sondaar is weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien.”

Maar die waarheid seëvier nie in hierdie hofsaak nie:

Die vonnis: “Jy, is heeltemal in sonde gebore. En leer jy ons,” het hulle vir die man gesê en hom verban uit die sinagoge.

Die godsdienstige elite wat die waarheid moes beskerm het dit verkrag. Hulle het duidelike getuienis nie aanvaar nie en dit verdraai. ‘n Onskuldige man word verban. Hy sou nooit weer kon “kerk” toe gaan nie net omdat Jesus hom genees het…

Die Oscar-hofsaak het pas weer begin. Skuldig of onskuldig is nie al wat belangrik is nie. Die vraag is: Sal reg en geregtigheid geskied met Oscar? Dit is iets waaroor ons nie beheer het nie.

Al waaroor ons wel beheer het, is om toe te sien dat geregtigheid geskied in ons alledaagse handel en wandel. Want eendag sal nie net Oscar nie maar ons almal voor die Groot Regterstoel verskyn (2 Kor 5:10) en daar sal geen “fout” gemaak word nie.

www.dsgielie.net

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version