BlogsOpinion

VAT VYF: Jou dogter is kosbaar, pas haar op

Iewers in 'n eensame woestyn lê 'n dogter en dink aan haar ma.

Iewers in ‘n eensame woestyn lê ‘n dogter en dink aan haar ma.

Toe sy nog by haar in die huis was, het sy maar soos meeste tieners gerebelleer teen skottelgoed was, water gaan haal by die put en ander houshoudelike takies, maar vandag is sy in die hande van wrede tiranne, Boko Haram van Nigerië.

Sy is geweldadig ontvoer en weggeruk uit haar ouerhuis. Sy sal enigiets doen om vry te wees. “Bring my terug na my ma,” huil sy saggies in haar hart.

In ‘n klein dorpie op die grens van Nigerië lê die einste dogter se moeder in die donker nag en staar na die sterrehemel. Sy bid saggies: “bring terug my dogter”.

Soms was sy gefrustreerd met al haar dogter se tienerstuipes en ongehoorsaamheid maar sy sal nou alles gee om haar net weer by haar te kan hê.

Dieselfde scenario speel af keer op keer op talle ander plekke: In ‘n voorstad van Mosselbaai lê ‘n ma en bid vir haar dogter wat weggeloop het van die huis af. Sy is nie ontvoer nie, maar het gekies om nie meer in haar ouerhuis te woon nie. Een nag het sy skelmpies weggeloop. Haar ouers weet nie waar is sy nie. “Bring terug ons dogter,” snik die ma terwyl sy smekend na haar eggenoot kyk langs haar op die bed.

Min weet sy haar dogter is op hierdie einste oomblik in ‘n nagklub in Durban. Sy is deur haar kêrel verlaat vir iemand anders en sy verlang na haar moeder. Om die pyn te verdoof is sy besig om haarself met ‘n dwelm in te spuit terwyl sy op en af wieg op die maat van blêrende musiek. Soos die dwelm geleidelik haar in ‘n euforiese droomwereld inlei, verdwyn alle gedagtes oor haar moeder geleidelik.

Die groot kreet wat die afgelope tyd oor die wêreld opgestyg het oor die ontvoering van skoolmeisies in Nigerië, is prysenswaardig, maar dit is maar net die ore van die seekoei.

Wat van al ons dogters wat gereeld “gekaap” word deur sielkundige “terroriste”? Hulle wat in die media en op internet ‘n ideologie van vryheid verkondig; dat ons dogters eers waarlik vry sal wees as hulle hul oorgee aan bandelose seks, alkohol en dwelms.

Hierdie is ‘n waarskuwing aan elke ouer. Pas jou kosbare dogter op, want as sy eers die pad byster geraak het, wag daar vir jou ‘n hartseer pad en is dit nie so maklik om haar weer terug te bring nie.

www.dsgielie.net

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button