BlogsOpinion

KLIKKIEBEK se padreëls

klikkiebek, riana joubert

Die dag wat my vriendin vir die derde keer probeer het om haar bestuurslisensie te slaag, kon ek nie langer stilbly nie. Ek het haar kaalvuis vertel waarom sy nooit sal slaag nie: “dis eenvoudig, jy ken nie jou padreëls nie”.

Ek het verduidelik dat dit duidelik is dat die K53-bestuurstoets net mooi niks beteken op die pad nie.

Die toeter is nie regtig ‘n waarskuwingsmeganisme nie, dis die ding wat jy gebruik wanneer die bestuurder voor jou indraai en nie jou gebaretaal kan verstaan of jou kan hoor vloek nie.

Dit is ook ‘n vorm van kommunikasie wat mens gebruik om vriende te groet en om kliënte nader te roep.

Flikkerligte is nie gemaak om te wys waarheen jy gaan draai nie. Die flikkerlig kan soveel meer doen. Enige gebruik van die vier flikkers kan beteken dat jy gaan stilstaan, ‘n u-draai gaan maak, in die teenoorgestelde rigting gaan draai, of dat jy net daarvan hou dat iets aan jou voertuig aan en af gaan en die res van die mense op die pad so verbouereerd maak dat hulle sommer van die pad af wil trek.

Stopstrate, toegeetekens en alle ander tekens is slegs daar vir die gebruik van verkeerskonstabels wanneer hulle redes soek om boetes te gee.

Jy hoef aan geen verkeersteken aandag te gee nie, tensy die persoon voor of langs jou die teken uit die aarde ry en hy in jou rigting val.

Dit maak nie saak wat die kleur van die lig op die geel paal is nie, jy is nie in in die kleuterskool nie en hoef nie te “stop, ry en oppas” nie. Afhangende van jou bui kan jy die groen lig gebruik om te sien hoeveel van die ander motoriste weet hoe om vingertaal en toeters te gebruik deur doodeenvoudig eers jou SMS klaar te stuur of net in die verte te staar asof jy na iemand verlang wat jy nog nooit ontmoet het nie.

Ek was nog besig om te verduidelik waarom mens nie laaisones of parkering vir gestremdes enigsins mag misloop nie, want hulle is gewoonlik naby die deur en het plek vir baie trollies om staan te maak om die kar, toe my vriedin haar ma se motorsleutel by my gegryp het.

Sy het in die wegstap iets gemompel wat geklink het of dit woorde was wat vir die toeter bedoel was.

Ek dink dis stank vir dank.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button