‘n Stukkende wêreld kan oorwin word

Daar word getuig dat miljoene Russe hulle lewens verloor het tydens die tweede Wêreldoorlog en dat nog meer ontwortel, in armoede en verwese agtergelaat is.

Daar word getuig dat miljoene Russe hulle lewens verloor het tydens die tweede Wêreldoorlog en dat nog meer ontwortel, in armoede en verwese agtergelaat is.

Toe die verslane Duitse krygsgevangenes deur die strate van Moskou begelei is, was daar duisende Russiese mense wat met geweld die onreg wou herstel en die krygsgevangenes uitmekaar wou skeur. Die pyn waarmee die Russiese volk gesit het wou hulle oordra op dié krygsgevangenes. Slegs die Russiese polisie het die skares teruggehou en verhoed om die reg in eie hande te neem.

Skielik het ‘n Russiese vrou egter deur die linie gebreek en gehardloop met ‘n stukkie brood na een van die Duitse soldate toe. Baie meer Russies vrouens het dit gedoen en brood aangebied vir die krygsgevangenes. Die daad van die Russiese vroue getuig dat daar ‘n geweldige krag in die optrede van gefokusde liefde is. Dié optrede in liefde onderstreep die feit dat die goeie die kwaad oorwin.

Ons almal het hierdie liefde nodig. Ons staan in Paastyd aan die voet van die kruis en hoor die gebed van Jesus:” Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Jesus breek deur die stukkende en gebroke lewenslyn om die lewens weer heel te maak. Hy breek deur die lyn van ons optredes en opmerkings dat ons niks en niemand nodig het nie. Ons het ‘n Verlosser nodig wat ons help om ons eie gebrokenheid en sonde te verstaan, anders bly ons dink dat ons nie herstel nodig het nie.

Filosowe dink dat hulle God ken, maar verstaan nie hulle eie gebrokenheid nie. Ateïste weet egter dat hulle gebroke mense is, maar ken nie ‘n Verlosser wat hulle kan genees nie. Die krag van die vergewende liefde is kragtig vir elkeen wat besef dat hy vergewende liefde nodig het.

‘n Stukkende samelewing met stukkende verhoudinge vol dreigemente, moord, diefstal, verkragting, mishandeling en korrupsie kan oorwin word deur die goeie van liefde.

‘n Produktiewe samelewing met produktiewe lewens is moontlik waar die samelewing kies vir ‘n gemeenskap van versorging deur die lyn van kwaad te breek. Die samelewing sal nie genadig wees of word as daar nie besef word dat die samelewing genade nodig het nie.

Genade is nie deel van verhoudinge as die genade van God nie ontvang word nie. Ons leef egter nie die genade uit as ons onsself voortdurend voor ander regverdig nie. Ons optrede is dan soos die Russies volk wat die krygsgevangenes wil verskeur sonder liefde as uitgangspunt.

Jesus het in die lyding wat Hy ervaar het aan die kruis vir ons liefde getoon deur genadig te wees. Hy fokus op die oortre-ding van mense en nie die oortreder nie.

Vergifnis is pynlik en dit vra van ons elkeen om vry te spreek al wil ons aan straf bly vashou. Ons is dikwels bekommerd oor die vyande van die samelewing maar nie oor ons broers in die samelewing nie.

Die hartseer is dat die grootste skade egter in ‘n samelewing en in persoonlike verhoudinge gebring word deur Christen broers en susters. Die keuse van my woorde en optrede sal ‘n sneeubaleffek op ons almal hê.

Ons samelewing roep met Paasfees uit: “Mag die woorde van Christus aan die kruis ‘n sneeubaleffek in jou lewe hê sodat ons samelewing ‘n sneeubaleffek mag wees van die goeie wat die kwaad oorwin”.

Die brood van die lewe is reeds gebreek aan die kruis sodat ons in Paasfees 2014 die brood kan uitdeel aan die krygsgevangenes van liefdeloosheid.

Exit mobile version