BlogsOpinion

Ons is maar bitter, bitter klein

Dink jy Bakkies Botha of Willem Alberts is groot? Dink weer, want in God se groot heelal is ons almal maar bitter, bitter klein.

Dink jy Bakkies Botha of Willem Alberts is groot? Dink weer, want in God se groot heelal is ons almal maar bitter, bitter klein.

Ons meet ons in sentimeters of meters. God se skepping is so groot en wyd dat ons dit nie in sentimeters, meters, of selfs in kilometers kan meet nie, ons moet dit in ligjare meet.

In een sekonde trek lig ongeveer 300 000 kilometer ver, of 566 keer Loftus toe en terug. Indien ons teen die spoed van lig na die maan kon reis, sou ons binne 1,3 sekondes daar land.

Die son is heelwat verder en dit neem die son se strale agt minute om ons te bereik. Die son is 150 miljoen kilometer van ons af. In God se grenslose heelal is die maan my buurman, en die son in die volgende blok.

Lig het tien uur nodig om deur ons sonnestelsel te trek. Ons sonnestelsel vorm deel van ‘n sterrestelsel, die Melkweg, wat 100 000 ligjare in deursnee is.

Die naaste ster aan ons son, wat natuurlik ook ‘n ster is, is Alpha Centauri wat vier en ‘n half ligjare van ons af is. Die sterrestelsel waarvan ons deel is, die Melkweg, bestaan uit ongeveer 300 biljoen ander sterre.

Daar is biljoene sulke sterrestelsels. Ons wag waarskynlik nou al vir van daardie stelsels se lig om ons eendag te bereik.

Dink jy nog Bakkies en Willem is groot?

Uit die as van vergane sterre is ons planeet, die aarde gevorm. God het ons aarde, en ons, geskep uit die as van uitgebrande sterre.

Die gedagte aan die grootsheid van die skepping en die kleinheid van die mens vervul ‘n mens met verwondering.

Dit laat jou kop vassteek. In rekenaartaal kan ek seker sê dit laat jou brein “hang”.

God skryf sy Woord nie net in die Bybel nie, sê Marten Luther, maar in bome, blomme, wolke, sterre en planete.

Moenie te veel van jouself dink nie, maan die psalmdigter in Psalm 8. Jy is nie die middelpunt van die heelal nie en alles draai nie om jou nie. Die son gaan ook nie onder as jy gaan sit nie!

Dit is in die eerste plek nie jy wat alles in stand hou nie, maar God. Hy hou alles in stand met ‘n ligte druk van sy vingerpunte (Psalm 8:4).

As jy en ek dit nie in gedagte hou nie, kan ons maklik arrogant word en ons as verbruiker en uitbuiter aanstel. Dan dink ek maklik dat alles hier is ter wille van my, my gerief, my gemak en my verryking.

Tot op daardie dag wat daar byna geen lewe meer moontlik is nie, en ons besef, ons kan nie geld eet nie…

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button