LettersOpinion

Vredemakers

Rusplekke en rigtingwysers.

Jesus sê dat mense wat Hom volg, vredemakers is (Matteus 5).
Maar soek die wêreld nie ook na vrede (peace) nie?
Die vrede waarvan Jesus praat is baie meer as wat die wêreld onder vrede verstaan.
Die vrede waarvan Jesus praat is ook veel meer as net die afwesigheid van oorlog.
Die vrede waarvan Jesus praat as Hy sê ons moet vrede-makers wees, is die Sjalom van die Ou Testament.
Sjalom beskryf vrede in die wydste sin en is ‘n totale saak.
Dit gaan oor totale heelheid (total wholeness) op alle vlakke.
Dit gaan oor reg, geregtigheid, gehoorsaamheid en goeie orde.
Dié vrede gaan oor veilig voel wanneer ek vanaand my kop neerlê.
Dit gaan oor kinders wat weer in die straat kan speel en seniors wat in die park kan stap.
Dit gaan oor goeie gesondheid, voor-spoed, vooruitgang, werk vir almal wat wil werk, voedsel-sekuriteit en veiligheid.
Dit gaan dus oor oneindig meer as net die afwesigheid van oorlog.
Dit is die skep, of nader leef van ‘n toestand waarin die lewe in sy volheid kan gedy.
Ons word geroep om deel te hê aan hierdie vredemaak!
Selfs al het jy niks gedoen om oorlog of konflik aan te vuur nie, het ons nog nie naastenby gedoen wat Jesus van ons vra nie.
Die potensiaal vir stryd en konflik in Suid-Afrika is baie groot.
Ek kry soms die idee dat ons hier sit met ‘n kruitvat wat enige oomblik kan ontplof.
Vat maar vir Marikana en De Doorns, ons land se verskeidenheid van rasse, klasse, kulture, ongelykhede en die misbruik van mag deur mense in posisies van gesag.
Die potensiaal vir konflik word aangevuur deur mense wat angs en haat saai met “Oppas vir die swart gevaar”, en “Maak dood die boer!”
Die onvrede gaan verder. Dit raak aan al die aspekte van ons lewe!
Mense se lewens word nie net vernietig in oorloë, in loopgrawe van politieke podiums nie.
Mense se lewens word ook vernietig agter toe kamerdeure en hoë mure, op ons paaie, speelgronde, in raadsale, klaskamers, kantore, werkswinkels, op die sportveld en selfs in ons kerke!
As Christene word ons geroep om vredemakers te wees.
Hoe anders kan en sal ons land dan nie wees nie?

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button