Pieties blink uit by WIK driekamp
Die driekampgeleentheid word gehou ter nagedagtenis aan ‘n voormalige werknemer van dié skool, Wik van der Walt.
POLOKWANE – Tydens die jaarlikse Wik driekampbyeenkoms, wat by Stanford Lake College gehou word, kan deelnemers in spanverband inskryf en so die beste atlete in drie sportkodes die geleentheid gee om te wys waartoe hulle in staat is.
Die driekampgeleentheid word gehou ter nagedagtenis aan ‘n voormalige werknemer van dié skool, Wik van der Walt.
PHS se atlete het op 16 Maart deelgeneem, en baie goed gevaar:
Andreas Jansen behaal ‘n tweede plek in die individuele driekamp.
Lerize du Toit (500m swem), Erick Smit (15km fietsry) en Kaylie Groenewald (5km hardloop) het in spanverband deelgeneem en behaal ‘n eerste plek in die gemengdespankategorie en eindig sesde algeheel.
Kylie sê sy neem al twee jaar aan driekamp deel en dit is die eerste jaar dat sy in ‘n span is.
“Ons motiveer mekaar deur ondersteuning, positiwiteit en om mekaar aan te moedig. Ek oefen elke dag.”
Sy sê daar was 42 spanne en hulle was bly om sesde te kon eindig.
Erick sê dit was die eerste keer dat hy aan ‘n driekampbyeenkoms deelgeneem het, en hy is skaars ‘n week voor die byeenkoms genader om by die span aan te sluit.
“Ek gaan gereeld gymnasium toe, maar sal dalk naweke oor ver afstande fietsry. Ek was baie opgewonde toe ek hoor hoe goed ons gevaar het.”




