Tom Naude juffrou wen teg-prys

Hierdie landwye kompetisie is vanjaar vir die sewende keer aangebied en is gerig daarop om die beroepstalent wat in Suid-Afrika nodig is, te koester en te bevorder.

POLOKWANE – Alhoewel Scherine Britz, onderwyser by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, daagliks gemaklike plat skoene dra, het sy onlangs gewys sy is net so gemaklik in hoë hakke – dit was toe sy haar prys as wenner in die Sasol Stigting en Kagiso Trust se Nasionale Praktiese Vaardigheidskompetisie vir Tegniese Vakke-kompetisie op die verhoog gaan haal het.

Hierdie landwye kompetisie is vanjaar vir die sewende keer aangebied en is gerig daarop om die beroepstalent wat in Suid-Afrika nodig is, te koester en te bevorder.

Leerders word aangemoedig om loopbane in ambagte te volg en dus speel die kompetisie ‘n rol in die bevordering van indiensneming en daar is ook ‘n afdeling vir vakonderwysers.

Deelnemers neem deel in die afdeling van hulle vakgebied en so het Scherine stof in heelwat manne se oë geskop in die kragsisteme-afdeling (onderwysers).

“Dit is die tweede jaar dat Tom Naudé deelneem. Jy neem deel in die vakafdeling wat jy aanbied, en aangesien ek klasgee in kragsisteme, het ek in daardie afdeling ingeskryf.”

Die nasionale been van die kompetisie het op 26-28 September by die Advanced Training Institute (ATI) plaasgevind.

Dit is slegs die eerste- en tweedeplekwenners in die provinsiale kompetisie wat na die nasionale kompetisie vorder.

Agt van die nege provinsies het deelgeneem, met die Noord-Kaap wat op die nippertjie onttrek het.

Scherine het verlede jaar met ‘n derde plek huis toe gekom en sê dit was omdat sy “net ‘n skroewedraaier gehad het en eintlik ‘n boor nodig gehad het”.

“Hierdie jaar was ek voorbereid en het ‘n boor ook saamgeneem. Al my kollegas het die wentitel oor my uitgespreek. Volgende jaar gaan ek iemand anders ‘n kans gee. Ek het mos nou ‘n eerste plek, en die ander moet ook ‘n kans kry,” skerts sy.

Scherine was self by Tom Naudé op skool en wou naskool, elektriese ingenieurswese studeer.

“My rigting wat ek op skool gekies het, was elektries. Ek het na skool my N4 by Zurel Bros SA voltooi waarna hulle vir my ‘n pos as dosent aangebied het. Ek het ‘n 18-maande vakleerlingskap gehad en het my N6-kwalifikasie asook ‘n rooi seël vir elektrisiën behaal. In 2018 het ek by Tom Naudé aangesluit, maar dié keer as onderwyser.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version