Schools

‘Goeie tennisouer moet leerproses vertrou’ – Sarel van Rooyen

Met die skoleligawedstryde op hande het Polokwane Review dit goedgedink om raad aan ouers te gee oor hoe om ‘n goeie tennisouer te wees.

POLOKWANE – Terwyl die wêreld se beste tennisspelers Wimbledon se stof nog afskud, is plaaslike spelers hard aan die oefen vir die liga wat eersdaags begin.

Met die skoleligawedstryde op hande het Polokwane Review dit goedgedink om raad aan ouers te gee oor hoe om ‘n goeie tennisouer te wees.

Saam met enige wedstryd is daar toeskouers, en dis gewoonlik die spelers se ouers. Dié gee van die kantlyn af raad, praat moed in en berispe soms.

Volgens www.tennissa.co.za, is die grootste bron van spanning vir jong tennisspelers, emosioneel en fisies, vanweë hulle ouers. Volgens dié webblad behoort ouers die fokus op die spel in plaas te plaas eerder as op die uitslag.

Ook moet moeite en harde werk beloon word.

Plaaslike Tennis SA-geregistreerde afrigter, Sarel van Rooyen van SRE Sports, meen die ideale tennisouer moet die leerproses, asook die wedstrydproses, vertrou.

“Dit is belangrik dat die ouer die afrigter ruimte gee om af te rig en nie onmiddellike resultate verwag nie. Die ontwikkeling van die speler is ‘n stelselmatige proses. Daar is bepaalde boublokke wat deel van die leerkurwe is om ‘n goeie tennisspeler te word, ‘n reeks mylpale wat met verloop van tyd gevestig word. Vertrou die proses.”

Wedstrydgedrag, meen hy, kan die jong speler bou of breek.

“Wanneer ‘n kind ‘n fout maak in ‘n wedstryd, kyk hulle bykans dadelik op na die ouer se reaksie. As die ma of pa hul hande in die lug gooi, sekere aanmerkings maak of selfs wegstap, dink die kind outomaties hy of sy is ‘n teleurstelling en mors net die ouers se geld. Dit kom dan uit in hulle spel en in hulle selfvertroue.”

Geen speler, sê hy, slaan ‘n bal met opset in die net vas of buite die lyn nie.

“Foute is deel van die proses. Ondersteun eerder jou kind deur sy of haar fokus na die volgende punt te verskuif. Bly langs die baan, klap hande en praat hulle moed in vir die volgende punt. Jou kind gaan beslis dan harder probeer.”

Beloon ook hul harde werk en moeite, en fokus op die kleiner mylpale in plaas van die groot tellings, is sy raad.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button