PHS betreur Jeugland rugbyspeler se afsterwe

Emmanuel Makwiting (17), die tweedespanrugbykaptein wat as flank vir dié span uitgedraf het, het kort voor halftyd in sy span se wedstryd, na ‘n losgemaalbeweging op die veld bly lê.

POLOKWANE – Hoërskool Pietersburg het Maandag hul medelye uitgespreek na die afsterwe van ‘n Hoërskool Jeugland-rugbyspeler wat na ‘n besering die naweek, Maandagoggend oorlede is.

PHS en Jeugland se spanne het Saterdag by PHS in die SDC Noordvaalreeks teen mekaar te staan gekom.

Emmanuel Makwiting (17), die tweedespanrugbykaptein wat as flank vir dié span uitgedraf het, het kort voor halftyd in sy span se wedstryd, na ‘n losgemaalbeweging op die veld bly lê.

Volgens bronne het hy vermoedelik ‘n nekbesering opgedoen.

Nooddienstewerkers het hom gestabiliseer en hy is per ambulans na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal geneem.

Na aanvanklike inligting dat hy Maandagoggend geopereer sou word, is hy egter oorlede.

PHS het Maandag in ‘n persverklaring gesê die skool en die hele Pietiegemeenskap betreur Emmanuel se afsterwe.

“Namens die hoof, die beheerliggaam en die hele Pietie-gemeenskap wil ons graag ons opregte medelye en simpatie teenoor Emmanuel se gesin, sy spanmaats, vriende en die Jeuglandgemeenskap uitspreek. Ons bid saam vir vertroosting in hierdie moeilike tyd,” lees die verklaring.

Emmanuel se ouers kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version