Tommies A Capella sing die regte noot

Hul sanggroep, Tom Naudé A Capella, het reeds aan twee kompetisies deelgeneem waar hulle verskeie toekennings ontvang het.

POLOKWANE – Hoër Tegniese Skool Tom Naudé spog deesdae met sangtalent soos nog nooit tevore nie.

Hulle sanggroep, Tom Naudé A Capella, het al aan twee kompetisies deelgeneem.

“Ons groep staan bekend as Tom Naudé A Capella. Die idee was om soos ‘n sêrgroep te wees, maar ons tree eintlik soos ‘n koor op. Oral waar ons inskryf is ons Tom Naudé koor, maar ons naam is eintlik A Capella,” sê Marian Friskin, die dirigent van die groep.

Op 26 April het die groep aan die Alegretto Eisteddfod deelgeneem. Die twee soliste, Mašoto Gololo en Mpilenhle Twala, is bekroon met A+++ sertifikate wat beteken dat hulle na die volgende ronde gevorder het.

Die koor self het ‘n A+ sertifikaat ontvang en is deur na die volgende ronde wat in Pretoria sal plaasvind.

‘n Week later het die koor aan die SASCE-kompetisie in Seshego deel geneem.

Tharia Collins het die beoordelaars met ‘n Duitse liedjie betower om ‘n tweede plek in die sopraanafdeling te behaal.

Mašoto het in Italiaans gesing met Mpilenhle wat sy slag in isiXhosa gewys het. Morné Joubert sing ‘n isiZululied.

Die Tom Naudé-koor het die derde plek behaal.

Op 6 Mei het die koor by Hoërskool Pietersburg aan die Applous Koorkompetisie deelgeneem. Daar was verskillende afdelings en die Tommies het brons behaal in die ope afdeling: Gewyde sang, asook in die ope afdeling: jazz en pop.

Elmarie Swanepoel is ‘n musiekafrigter wat die Tom Naudé-koor afrig. Sy en Marian het die meeste van die liedjies wat gesing is, verwerk.

“As die kleinste koor wat dit nog reggekry het, sal Tom Naudé se skoolkoor voortgaan om die Tom Naude-vlag hoog te wapper,” sê Marian.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version