Schools

Tannie Winnie groet Tommie-leerders ná 32 jaar

Skoolhoof en jarelange kollega Vanessa Kachelhoffer sê Winnie Roux is reeds vir die afgelope 32 jaar 'n passievolle Tommie.

POLOKWANE – Vir net meer as die helfte van haar lewe reeds is Winnie Roux betrokke by die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en nou, na sowat 11 jaar as die ontvangsdame by dié skool, het sy besluit om haar stoel ‘n laaste keer onder die toonbank in te stoot.

Winnie en haar man, Danie, is geliefde en bekende gesigte by Tom Naudé waar hulle leerders bykans elke middag na skool ook help deur atletiek en netbal af te rig.

“Vandat ek 32 jaar gelede amptelik by die skool begin werk het, het ek in verskeie departemente gewerk. Ek het begin as laboratoriumassistent en is daarna na die sportkantoor geskuif. Dit was lekker aangesien ek van die sport hou. Ontvangs het weer sy eie uitdagings en ek het die afgelope 11 jaar baie geleer, van myself en van ander.”

Terwyl ons gesels is daar ‘n toeloop van mense in en uit die kantoor – van onderwysers met vrae en versoeke, tot ouers wat graag die hoof wil spreek. Elkeen word met ‘n vriendelike glimlag gehelp.

“Dit is soms moeilik en ek het baie foute gemaak, maar dan het ek weer lekker gelag daaroor en aanbeweeg. Humor is belangrik. Wanneer ek ‘n ouer nie kan help met dit wat hy soek nie, het ek my bes probeer om iemand anders te kry om te help. In hierdie kantoor het ek empatie met ouers en kinders geleer. Ek het geleer om te luister. Dit raak soms woes, maar ek het goeie herinneringe van die kantoor en die skool.”

Met ‘n heimwee in haar stem, sê Winnie dat elke kind vir haar kosbaar is, en potensiaal het.

“Ek gaan almal hier mis, van die terreinpersoneel en onderwysers tot die kinders en hulle ouers. Die skool is deel van my wese. Ek sal tot die grond toe veg vir Tom Naudé, hy was goed vir my.”

Winnie gaan steeds vir ‘n wyle by die skool betrokke wees met netbal- en atletiekafrigting, maar beoog om baie meer tyd by haar kinders en kleinkinders te spandeer.

“Ek is bevoorreg om met die kinders te werk. Dit is goed om te sien hoe ‘n kind groei en sy of haar volle potensiaal bereik, nie net op die sportveld of in die klaskamer nie, maar oor die algemeen. ‘n Kind se glimlag is die grootste beloning wat daar is.”

Skoolhoof en jarelange kollega Vanessa Kachelhoffer sê Winnie is reeds vir die afgelope 32 jaar ‘n passievolle Tommie.

“Sy is die hartklop van Tommieland by ontvangs, altyd vriendelik, behulpsaam en belangstellend. Wat ons die meeste gaan mis is hoe goed sy die kinders ken en hoe opreg sy aan die einde van die dag elke onnie en leerder aan ons Skepper in gebed opdra. Sy is inderdaad ‘n legende wat baie geliefd onder ons personeel, leerders en ouers is. Sy maak daagliks ‘n verskil en is bereid om die ekstra myl vir hierdie familie te stap. Langs die atletiek- en netbalbaan ken ons haar as afrigter wat meisies se potensiaal ontgin en wat van elke deelnemer 200% fiksheid en toewyding verwag. Sy gee 200% en sy verwag 200% en dis ononderhandelbaar. Haar sin vir humor wanneer ons volgens temas aantrek en haar stem oor die interkom sal terdeë gemis word.”

Kabura Abubakar, top netbalspelers en die skool se hoofmeisie het gesê, “Tannie Winnie het my geleer om altyd gedissiplineerd te wees en nooit lui nie. Ek is dankbaar vir die impak wat sy op my sportlewe gehad het”.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button