Skooltasprojek help Solidariteit ‘n verskil maak

Die Skooltassie-projek is 'n nasionale projek wat sy ontstaan reeds in 2007 gehad het en in Limpopo word daar in 2024 53 tassies aan behoeftige gr. 1's uitgegee.

POLOKWANE – Een van die lekkerste dinge van teruggaan skool toe in die nuwe jaar, is die splinternuwe skryfbehoeftes in jou tas – ‘n skêr, liniaal, gom en ‘n uitveër. Inkleurpotlode met skerp punte, skoon skryfpapier met geleenthede van leer.

Hierdie is dalk die droom van menige leerder, maar vir baie sal dit slegs ‘n droom bly.

Skryfbehoeftes is ongelooflik duur en wanneer jy moet kies tussen nuwe penne en ‘n broodjie in die kosblik, wen die broodjie loshande.

Solidariteit Helpende Hand het om hierdie rede die Skooltassie projek geskep waar gemeenskapslede ‘n bydrae kan lewer tot die aanvulling van ‘n groep gr. 1-leerders se skryfbehoeftes.

Pieter Botha en Milah Steyn met ‘n skooltassie.

Die Skooltassie-projek is ‘n nasionale projek wat sy ontstaan reeds in 2007 gehad het.

In Limpopo word daar in 2024 53 tassies aan behoeftige gr. 1’s uitgegee.

Elke tassie bevat ‘n skêr, twee buisies gom, ‘n skerpmaker, uitveër, liniaal, ‘n pak uitdraaikryte, ses HB-potlode, ‘n witbord, vier witbordpenne, ‘n pennesakkie en ‘n pak kleurpotlode.

“Daar word deurgaans navorsing gedoen om te bepaal watter items relevant tot die tassies is, natuurlik kan ons nie al die items insit nie en sit die nodigste in.

“Ons maak seker om goeie kwaliteit items in die tassies te plaas om te verseker dat die kind die hele jaar en soms nog langer as die jaar die skryfbehoeftes kan gebruik,” sê Carol Ankiewick, Limpopo verteenwoordiger van die Skooltassie-projek.

Pieter Botha en Milah Steyn met ‘n skooltassie.

Indien iemand ‘n tassie wil borg, kan hulle gerus die webblad by www.tassie.co.za besoek.

Daar is ‘n opsie waar tassies geskenk kan word (finansiële bydrae).

“Enige borgskap in terme van die skryfbehoeftes is ook baie welkom, dit is net vir ons baie belangrik om goeie gehalte items in die tassie te plaas vir die kinders en nie ‘n potlood waarvan die punt breek elke keer as daar geskryf word nie.”

Indien jy items vir die tassies wil borg, kontak vir Danelle by danelle@helpendehand.co.za. te kontak of skakel Carol by 062 560 4300.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version